Paarl donker weens diewe
2010-06-10
Lise Beyers
PAARLIETE moes vroeg Saterdagoggend weer gryp na die kerse, toe ’n kragonderbreking dié dorp byna tot stilstand gebring het. Die krag het enkele minute ná 07:00 afgeslaan en Paarliete was sommer dadelik warm onder die kraag hieroor ná verlede Sondag se debakel toe ’n Eskom kragonderbreking ure langer aangehou het as wat beplan was. Maar hierdie keer kon die vinger nie gewys word na die munisipaliteit of Eskom nie, want koperkabeldiewe was vir die onderbreking verantwoordelik. Hulle het douvoordag ondergrondse kabels probeer steel, reg agter die Daljosafat-stadion aangrensend aan Groenheuwel. Die diewe het weggekom met ’n klein hoeveelheid koper. In die Paarl was die krag vir sowat twee en ’n half uur verbreek, en later was dit vir ’n halfuur af in Paarl-Oos, toe nóg herstelwerk gedoen is. Die skade wat die diewe aangerig het, word naby aan R20 000 geskat en die belastingbetaler sal hiervoor moet opdok. En by navraag by Paarl-Oos polisie oor die voorval, het hulle geen kennis hiervan gedra nie, want die Drakenstein Munisipaliteit het hierdie misdaad nie by hulle aangemeld nie. * The power-outage which was experienced in Paarl on Saturday morning, was due to a copper cable theft.
More
News
|