Hoekom nie hierdie straat teer?
2010-06-10
OP Vrydag 28 Mei kry ons ’n kennisgewing dat Buitekantstraat in Newton gesluit gaan word vanaf 31 Mei tot 12 Junie om pype te lê en ’n alternatiewe roete sal aangedui word. Ons almal weet al wat die alternatiewe roete is. Diemersfontein-pad en die ander pad wat parallel met die hoofpad loop. Dis waar die probleem inkom. Die Diemersfonteinpad is ’n sandpad. Ja, steeds ’n sandpad in hierdie era van dienslewering. Elke jaar moet die inwoners nuwe verskonings aanhoor oor hoekom die pad nie geteer kan word nie. Die honderde kere wat die pad geskraap is, kon al lankal betaal het vir ’n teerpad. As dit reën, is dit so vol gate dat dit omtrent bestuursvernuf verg om ’n stukkie pad tussen die gate te soek. Was hierdie nie die perfekte geleentheid om die pad te teer nie? Wat gaan die verskoning hierdie keer wees, want ons het al alles van te min begroting, tot Streeksdiensterade se verantwoordelikheid, gehoor. Die verskonings raak nou flou en uitputtend. Die woonbuurt staan al jare, maar nuwe uitbreiding rondom dit spog met teerpaaie. Die belastingbetalers van Newton word jaar na jaar oor die hoof gesien. Wie gaan betaal vir die skade aan die voertuie aangesien ons nou gedwing word om een pad vol gate (Diemersfontein) en ’n ander vol gate en diere, te gebruik? Ontstelde inwoner
More
News
|