Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Slimkop van Gim gaan ‘maanman’ word

Slimkop van Gim gaan ‘maanman’ word
 
2010-06-10

Devidean Moses

DIT is nie toevallig dat die Gimmie, Louis Cordier, gekies is om aan die Nasa ruimtesentrum in Houston, Texas, se Wetenskapprogram deel te neem nie.

Louis Cordier (17), ’n graad 11 leerder van Gimnasium Hoërskool, is een van slegs twee gekeurdes in Suid-Afrika wat gaan deelneem aan die jaarlikse “United Space School” program in die VSA, wat belangstelling in ruimte- en verwante wetenskappe bevorder.

Hy is een van ongeveer 36 leerders van regoor die wêreld wat tot hierdie program gekies is, en sal die ruimtesentrum in Julie en Augustus besoek.

Die organisasie Young Wings het hierdie projek in 1994 geloods en kies slegs leerders wat goed presteer. Leerders van die ouderdom van 16 tot 18 jaar kan aan die program deelneem..

Die gekeurdes vir hierdie program is self verantwoordelik vir die befondsing. Louis se reiskoste word tot ’n groot mate deur ’n deur ’n Suid-Afrikaanse maatskappy gefinansier.

Hierdie hardwerkende seun stel akademiese prestasie eerste in sy skoolloopbaan en hy bring dus baie tyd agter sy boeke.

Hy doen benewens die verpligte vakke ook Fisiese Wetenskappe, Wiskunde, Gevorderde Program Wiskunde en Rekeningkunde.

“Hierdie kombinasie van vakke is baie lekker en is ’n groot uitdaging. Ek het redelik ’n kop vir syfers,” voeg hy by.

“Ek voel baie geëerd om my land te verteenwoordig en boonop voel dit half onwerklik. Ek sou nie kon dink dat iets soos dit op my pad sal kom nie. Ek is opgewonde,” sê Louis.

Noudat hy gekeur is, moet hy agt take inhandig wat handel oor verskeie vakke in die leerplan.

Tydens die besoek gaan die groep leerders lesings ontvang van ruimtevaarders, wetenskaplikes en ander kundiges. Hulle gaan ook in groepe verdeel word om sekere take uit te voer en probleme op los wat tydens “’n bemande sending na Mars” in die ruimte ondervind kan word.

Volgens Louis Wetenskap-onderwyseres, Ina van Wyk, is Louis baie leergierig, met ’n wye belangstellingsveld.

“Toe Young Wings se koördineerder die skool gekontak het, het ek aan al my leerders gevra of hulle ’n kans wou waag om in te skryf, maar dit was net Louis wat hierdie geleentheid aangegryp het”.

Sy voeg ook by dat hierdie slimkop ’n inspirasie vir sy klasmaats is, veral omdat hy vrae vra wat ander ook wou weet. Hy is ook baie behulpsaam en help graag sy mede-leerders.

Hierdie selfgedissiplineerde knaap is boonop ’n lid van die Junior Paarl Stadsraad se uitvoerende komitee wat tans liefdadigheidswerk by Paarl Hospitaal te doen.

Hy dien ook op die jeugbestuur van die Audensberg NG gemeente op sy tuisdorp, Worcester.

Louis, wat in die koshuis tuisgaan, bring nie al sy tyd voor die boeke deur nie, maar neem ook deel aan hokkie en atletiek. Hy ag sport as baie belangrik en speel vir Gim se eerste hokkiespan.

“Ek geniet dit ook baie om te lees en hou daarvan om tyd saam met my vriende deur te bring. Naweke bring ek tyd saam met my ouers deur.”

Sy pa Corrie, ’n gewese stadsbeplanner, en sy ma Hannetjie, ’n vryskutvertaler, gee hul volle ondersteuning aan hul enigste kind.

Louis meen ’n mens moet baie lees en jou behoeftes prioritiseer.

“As jy hard werk, is niks onmoontlik nie,” sê hy.

Hy hoop om ná skool aan die Universiteit van Stellenbosch te studeer in die medisyne om geneesheer te word.




More News
  • Gasheer vir stoei
  • Show-jumping inter-schools at Evergreen
  • Met 'n groot glimlag vorentoe
  • Wiese uit sy nate oor oorsese toer
  • Boishaai gesels saam met grotes
  • Paarl Juniors hit five
  • Sixteen teams in soccer tournament
  • Alexa skrik nie vir 300 doele nie
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za