MET Fifa Wêreldbeker-sokkerkaartjies styf in die hand was die pad vanaf die Paarl tot in die hartklop van die wêreld Vrydag ’n heel eenvoudige rit.
Op ’n Metro-trein was dit maar ’n vaal prentjie verby die industriële gebiede van die voorstede, maar dit was vinnig, sorgeloos en betyds.
Met ons aankoms by Kaapstad-stasie het ’n verrassing egter op ons gewag. Oornag het die verouderde grys stasie in ’n internasionale toonbeeld van moderne, georganiseerde prag ontaard.
Vandaar was daar twee keuses: óf om een van die talle splinternuwe gratis busse na die Kaapstad-stadion te neem, óf die 2,5 km wandelroete wat uitgelê is deur die stad na die stadion.
Ons was egter gretig om by die stadion uit te kom en vinnig is na die burgersentrum om ’n bus te haal.
Die rit het ons meegemaak met talle sokkergeesdriftiges, sommiges van die verste hoeke van die wêreld, wat almal hul landsvlae omhoog gedra het.
Kaapstad was nie nou net meer die rustige hawestad met Tafelberg as sy baken nie. Ons was in ’n ander land, ’n ander wêreld.
Om die standbeelde in Adderleystraat pronk daar nou troppe sebras met fraaie bekleedsels. Dit herinner seker byna vir Jan en sy Maria aan die dag toe hulle destyds hiér voet aan wal gesit het.
Die strate is skoon, die mense vier fees. En die gees loop so hoog dat daar elektrisiteit in die lug hang.
Sommer tjoef-tjaf is ons by die stadion en sy is pragtig, werklik soos ’n beeldskone vrou wat rustig wag om van die mooiste sokkerhelde ter wêreld te omhels.
Ja, ons was volgens Fifa se talle regulasies toegerus met slegs die voorgeskrewe toebehore: identiteitsdokumente, handsakke wat nie groter is as 25cm by 25cm. Geen skerp voorwerpe of vuurhoutjies nie.
Maar ons maak ons pad deur die sekuriteitspunte, sonder dat ’n sak deur die metaalverklikkers gesit word of deur wagte deursoek is.
Dis bietjie van ’n ongemaklike gedagte by hierdie internasionale skouspel van alle skouspelle.
En eers binne was daar nie kans om in ’n halfuur bedien te word by ’n kosstalletjie nie - maar gelukkig was bier vrylik beskikbaar.
Maar dit is nie die punt nie. Ons is hier om deel te wees van hierdie grootse gebeurtenis en niks gaan ons onderkry nie. En inderdaad, niks het nie.
Die stadion is werklikwaar ongelooflik, die grasperk lyk soos ’n diep smaraggroen tapyt en alles is net perfek. ’n Knop het skoon in my keel gevorm toe ek dit betree.
En toe Frankryk en Uruguay die veld vat, het die gejuig van die skare selfs die magtige dreuning van die vuvuzelas oorskadu.
Gepraat van vuvuzelas, vir my het hulle nie gepla nie.
Alhoewel die wedstryd self nie so erg opwindend was nie, was die aangesig van internasionale sokkersterre wel. Veral my gunsteling, Thierry Henry, wat ek van nader bekyk het deur middel van my verkyker.
So is die wedstryd uiteindelik verby en meer as 63 000 mense het hul na uitgangshekke gesnel.
Daar was nie ’n kans dat ’n vinnige uitweg gevind kon word terug stasie toe nie. Dit was òf toustaan saam met duisende pendelaars wat gewag het vir busse, òf om saam met die res van die massas die wandelpad te neem.
So stap ons toe. Ons sien, voel en ruik die kleure en geure van Kaapstad en dit is wonderlik.
Mense van alle ouderdomsgroepe, rasse en nasionaliteite het saamgeloop en gekuier sonder enige probleme.
Uiteindelik is ons op ’n stampvol trein wat stadig leeggeloop het teen Kraaifontein. Daarna was dit net ons en nog ’n groepie ondersteuners, in die koue vroeë oggendure terug in die Paarl.
Dit was ’n uiters lang dag, maar dit was elke oomblik werd.
Noudat die toernooi in volle gang is, word daar heelwat kritiek uitgespreek deur toernooi-gangers. Hulle gaan haal werklik die bobbejaan agter die bult.
My ervaring was egter soet, stroopsoet soos heuning direk uit die koek. En so kan ek eerlikwaar sê dat die Sokkerwêreldbeker werklik die grootste skouspel ter aarde is.