Groot kettingwinkels pla in Noorder-Paarl 2010-06-17
DIT is met ’n gevoel van ongeloof dat die nuus na my oorgedra is dat nog ’n groot kettingwinkelgroep oorweeg word vir Noorder-Paarl.
Besef die mense nie dat die finansiële koek net só groot is nie?
Ons regering moedig die klein entrepreneur aan om hulle vermoëns te gebruik om besighede te begin en te bedryf om mense in diens te neem en op dié manier ons werkloosheid te beveg en onafhanklikheid van die hoofstroom te wek.
Ongelukkig is dit met skok dat ’n mens al hoe meer groot supermarkte opmerk wat in woonbuurte opskiet.
Menere, besef julle nie dat die huiswinkel, die spaza en vele ander kleinhandelaars tot niet gaan omdat hulle nie met julle kan kompeteer nie?
Talle mense verloor elke keer hul inkomste omdat julle dit wegneem.
Waarom is dit nodig dat ’n supermark ’n dranklisensie en ’n wegneemete-lisensie moet hê, terwyl talle entrepreneurs hulle deure moet sluit omdat hulle met julle groot koopkrag tot niet gaan?
Hiermee versoek ons dat die owerheid intree, leiding neem en dit stopsit voordat dit te laat is. Hierdie groepe koop nie hul produkte plaaslik nie, slegs by groot verskaffers wat nie in die Paarl geleë is nie.
Op dié manier kry ons baie min van die geld wat hulle genereer en die werksgeleenthede wat hulle skep, vergoed glad nie vir die groot hoeveelheid klein besighede wat moet sluit nie.
Die gewone man op straat deel beslis nie in die winste wat hierdie groepe genereer nie. Help asseblief die klein besigheidspersoon en entrepreneur. Laat hulle presteer en werksgeleenthede skep.Hannes Bezuidenhout