Grootouers in rou
2005-09-22
VERSLAENDHEID heers in die Paarlse woning van ’n gesin wat hul dogter, skoonseun en kleinkind Vrydagnag in ’n gru-botsing aan die dood moes afstaan.
Pieter en Marlene de Wit se jongste seun Ludolf (23), wat ook in die motor was toe dit onder ’n vragmotor beland het naby die Brackenfellse Okavango-afrit van die N1, was tot gister aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel.
Sy susterkind, Ruloff (3), wat langs hom agter in die motor gesit het, is die enigste wat ongedeerd van die botsing afgekom het.
Ruloff se ouers, Rudie (34) en Estelle Krüger (32) en sy sussie Sumarie (9 maande) wat op sy ma se skoot geslaap het, het op slag gesterf.
Die gesin was kort voor middernag op pad van die Paarl na hul huis in Bellville toe hulle tromp-op teen die agterkant van die vragmotor gebots het.
“Dit was so ’n spesiale aand,” sê ouma De Wit van Burbankstraat, Denneburg.
“Dit was die eerste keer dat Ludolf in sy eie huis hier onthaal het. Ons het gebraai en was so gelukkig . Ludolf is saam met Estelle weg om die naweek by hulle te kuier.
Die wees-seuntjie sal by sy oom en tannie Japie en Alet Krüger op ’n plaas tussen Hopefield en Vredenburg woon.
“Rudie se broer het self ’n dogtertjie en ’n seun en klein Ruloff is mos ’n Krügertjie. Hy sal gelukkig wees daar,” het sy ouma met ’n snik gesê.
“Sy ouma en oupa is baie hartseer en dit sal nie nou hier goed wees vir hom nie.”
’n Vriend van die Krügers, Phillip Human, het toevallig kort ná op die ongeluk afgekom.
“Hy sê hy het glad nie Estelle se motor herken nie. Hy het later gesê hoe jammer hy vir die mense was, maar hy het verder gery sonder om te besef dis sy vriende in die wrak.”
Intussen glo sy haar jongste seun sal herstel. “Hy was maar sewe toe hy deur ’n motor van sy fiets af gery is. Nou is die hoofbeserings erger, maar ek glo hy sal ook weer soos destyds herstel. Sy lewe is nie in ons hande nie,” het sy moeder gesê.
Ludolf was aan die Paarl Skool vir Gestremdes en Estelle het aan Hoërskool Gimnasium gematrikuleer.
Pieter de Wit, die voormalige posmeester van Huguenot poskantoor, is mede-eienaar van CJ’s Cellars. Ludolf en sy ouer broer Kobus (26), is ook daar werksaam.
Die gedenkdiens is môre om 11:00 in die NG Kerk La Rochelle, Bellville.
* A Paarl family is mourning the road death of a daughter, son-in-law and granddaughter while praying for the recovery of their son.
More
News
|