Vrou vermoor langs spoorlyn
2010-06-17
Lise Beyers
WERKNEMERS van ’n besigheid in Versaillesstraat, Wellington, het Donderdag op ’n gru-fonds afgekom terwyl hulle indringerplante in ’n spruit tussen hul werksplek en die treinspoor verwyder het. Een van die werkers het ’n been sien uitsteek tussen riete en die polisie is dadelik in kennis gestel. Die liggaam is uitgeken as dié van ’n straatvrou, Moira Fredericks. Sy is verwurg. Haar liggaam was reeds in ’n toestand van ontbinding en daar is vasgestel dat sy ook verkrag is. Verdere ondersoek het gelei na nog ’n groep straatmense wat onder ’n brug by Wellington-stasie woon, wat bevriend was met Fredericks. Volgens hulle het sy haar tweejarige seuntjie byna ’n week voordat haar liggaam gevind is by hulle gelos. Sy is nooit weer lewendig gesien nie. Fredericks het nog twee jong kinders wat by familielede op ’n plaas tuisgaan, terwyl sy en haar tweejarige seun op straat gewoon het. Die seun is nou in pleegsorg saam met sy broer en suster. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie. Inligting in verband met hierdie voorval kan aan a/o Celeste Barkhuizen oorgedra word by 021-864-8449. * A homeless woman was found murdered near the railway track in Wellington last week.
More
News
|