Was pa besete?
2005-09-22
DIE hartseer van twee jaar gelede is weer vars in die geheue van ’n moeder van Wellington, met die verhoor van die man wat haar dogtertjie vermoedelik vermoor het.
Die hofgangers in die Kaapse Hooggeregshof moes hoor hoe Willem Mouers (36) sy dogtertjie keel-af gesny het en haar liggaam in ’n kombers onder haar ma se bed op die plaas Landau ingedruk het.
Eva Witbooi het op 17 Oktober 2003 beangs begin soek nadat Mouers haar kalm ingelig het dat hy hul enigste kind vermoor het.
Eva het die middag ná werk saam met ander plaaswerkers gaan inkopies doen.
Mouers het klein Wilmaree by die speelskool op die plaas gehaal.
Toe Eva twee uur later uit die dorp teruggekeer het, het sy haar houman by ’n wasbak gekry.
Die huis was sonder enige tekens van ’n struweling of bloed.
“Hy het gesê ek moenie huil nie, ons kind is dood,” het die moeder destyds gesnik.
Willmaree (3) was ’n bebloede hopie in ’n kombers onder die bed.
Die moordwapen, ’n groot kapmes, was op sy gewone plek in die kombuis. In die slaapkamer het ’n Bybel oopgelê by die teks waar Abraham sy seun geoffer het.
“Willem het die afgelope tyd allerhande snaakse goed gepraat en deurmekaar gebid,” het Eva ná die moord gesê.
Mouers was sedert sy aanhouding in Allandale Gevangenis, maar sal op versoek van regter Jimmy Yekiso na Pollsmoor verskuif word om vertragings in vervoer na die hof te verhoed.
Hy is egter eers ’n maand vir sielkundige waarneming na Valkenburg verwys.
Medici sal moet vasstel of die man met die beweerde geloofswaansin ten tyde van die slagting by sy verstand was.
* A Wellingtonner father who allegedly slit his three-year-old daughter’s throat, is appearing on a charge of murder in the Cape High Court.
More
News
|