Vrou verloor byna al haar spaargeld
2010-06-17
Lise Beyers
’n LEWENSLANGE droom om ’n huis te besit het byna in ’n nagmerrie ontaard vir ten minste een plaaslike familie. ’n Plaaslike vrou, wat nie haar identiteit bekend wil maak nie uit vrees vir haar veiligheid, het ’n neseiertjie van R30 000 belê en gewag vir die regte huisopsie. Onlangs het sy en haar werkgewer ’n advertensie gesien vir bekostigbare ‘hop-huise’. So het sy opgewonde die adverteerder geskakel en vinnig is ’n ontmoeting gereël, ten spyte van haar werknemer se waarskuwings om uiters versigtig te wees en geen dokumente te teken sonder om haar te konsulteer nie. “Maar die man was baie aangenaam en netjies geklee en hy het my oortuig om ’n eerste kontantdeposito van R10 000 aan hom te maak. “Hy het my ook gewaarsku dat ek nie hieroor moet praat nie. “Hy het my ’n onvoltooide drieslaapkamerhuis in Pelikaanstraat, Wellington, gaan wys wat baie mooi was. “Hy het gesê dat die prys verlaag is van R100 000 na R80 000. Ek moes nog R20 000 aan hom oorhandig en hy sou dan die res van die finansiering behartig.” Maar by die gretige koper se werkgewer het die waarskuwingsklokke begin lui. “Ek het ook na die huis gaan kyk en het die eienaar gekontak. Sy was skoon geskok toe ek haar uitvra oor haar huis, want volgens haar was dit glad nie in die mark nie, en in elk geval is dit baie meer werd as R100 000. “Ek was ook agterdogtig oor die manier waarop die man besigheid gedoen het. “Hy wou nooit hê dat ek of my werknemer se man tydens hul samesprekings moet by wees nie, en hy wou net by vreemde liggings haar ontmoet, byvoorbeeld by ’n perde-dobbelhuis. “Toe hy nog R10 000 wou hê, het ek besluit om in te tree en ek het die polisie gekontak.” Die polisie het die vermeende eiendomsagent vasgetrek en na baie vrae wat hy nie kon beantwoord oor die transaksies nie, het hy ingestem om die geld terug te betaal, op voorwaarde dat ’n saak van bedrog nie teen hom gemaak word nie. Die polisie waarsku die publiek teen sulke transaksies. Volgens hulle teiken bedrieërs onkundige mense wat nie sakekennis het nie. “Dikwels oorhandig onskuldige beleggers met groot drome dan hul swaarverdiende spaargeld aan diegene, net om dit nooit weer te sien nie.” Mense wat soortgelyke ondervindings gehad het, kan die Wellington speurtak kontak by 021-864-9600. * A woman almost lost her life’s savings to an alleged estate agent.
More
News
|