Susters sterf ná huis brand
2010-06-17
Lise Beyers
DIE tienersusters wat ernstige brandwonde opgedoen het in ’n onlangse brand in Amstelhof, Paarl, het aan hul beserings omgekom. Nathaly Fortuin (18) en haar suster Bridget (14) was drie weke gelede tuis saam met Nathaly se kinders, Fallon (3) en Trevino (1), toe ’n brand hul opslaanhuis in ’n agterplaas in Suikerbekkiestraat verswelg het. ’n Buurman het daarin geslaag om die kinders uit die vlamme te red, maar die susters was reeds erg verbrand. Nathaly se kinders het minder ernstige brandwonde opgedoen en is in die Rooikruis Kinderhospitaal opgeneem. Die meisies se ma, Radio KC godsdiens-omroeper Magda Fortuin, was tydens die brand op die lug saam met pastoor Graham Taff. Nathaly en Bridget is weens die erns van hul beserings vanaf Paarl Hospitaal oorgeplaas na die brandwond-eenheid by Tygerberg Hospitaal. Hulle het egter nooit weer hul bewussyn herwin nie. Nathaly het verlede week hiér gesterf. Bridget se een been is vandeesweek geamputeer, maar sy het Dinsdagmiddag gesterf. Nathaly se begrafnis het reeds Saterdag vanuit die Volle Evangelie Kerk in New Orleans plaasgevind. Bridget se begrafnisreëlings was teen druktyd nie bekend nie. ’n Noodfonds is deur die gemeente gestig vir die Fortuin-gesin, wat alles in die brand verloor het. Skenkings kan gemaak word in die rekening van die gemeente (072204721) by Standard Bank Paarl (verwysing: Fortuin Fonds). * Two teenage victims of a shack fire in Amstelhof, Paarl, have died.
More
News
|