Opkomende sterre by die Endler
2010-06-17
DIE Endler-Konsertreeks het besluit om met ’n gleuf vir “Opkomende Sterre” ’n spesiale geleentheid vir Suid-Afrika se belowendste jong talent te skep, soos die Bushakevitz-duo wat op 19 Junie om 20:00 optree. Avigail (viool) en Ammiel (klavier) Bushakevitz word deur vele as opkomende sterre beskou. Albei is in die laat-1980’s in Jerusalem gebore, maar het in Suid-Afrika grootgeword. Nadat albei bykans elke beskikbare toekenning verower het wat in Suid-Afrika beskikbaar is, het hulle oorsee gaan studeer. Die uitvoering sluit sonates van Vivaldi en Mozart in, asook ’n keur van kort vertoonstukke. Ammiel dra tot vanjaar se deurlopende Chopin-herdenking by met ’n uitvoering van die pragtige Ballade no 4 in F mineur, op. 52. Avigail lewer haar solobydrae met die Sonate no 2 in A mineur, BWV 1003 vir onbegeleide viool deur JS Bach. Die konsert word afgesluit met die verleidelike Franse meesterstuk Poéme, op. 25 deur E Chausson. Kaartjies is by Computicket beskikbaar. Kaartjies is R85 en R65 vir studente/pensionarisse. Vir navrae, skakel 021-808-2343 gedurende kantoorure.
More
News
|