DIE Hermanus Times Kalfiefees vier vanjaar sy tiende verjaarsdag oor die Vrouedagnaweek (6-9 Augustus).
Die MetaalKabaal orkeskompetisie vir hoërskoolleerders vind Vrydag 6 Augustus plaas van 16:00 in die Sandbaaisaal.
Droomvrouens is Mathys Roets se nuwe solovertoning, rondom die gelyknamige album wat pas bekend gestel is. Hy tree twee keer op en word begelei deur Matthys Maree.
Die bekroonde sanger en liedjieskrywer, Amanda Strydom, bring Saterdag 7 Augustus met haar vertoning die allermooiste uit haar musiekskatkis na die Kalfiefees.
In Klassiek tot Kabaret op Sondag 8 Augustus word ’n skouspel van virtuose klavierspel en sang aangebied met Niël Rademan (klavier en sang) en Winand Grundling (klavier).
Die gewilde à capella groep, Adamsappel, gaan oud en jonk vermaak met hulle oorspronklike reportoire van klassieke en kontemporêre musiek Saterdagmiddag 7 Augustus.
Die Camerata musiekgroep van die Universiteit van Stellenbosch, bied Sondagmidag 8 Augustus ’n klassieke konsert met werke van Mendelssohn aangebied deur soliste Zoë Beyers (viool) en Luis Magalhaes (klavier).
Alwena van der Vyver bied ’n gospelkabaret Hallelujas in my Hangkas op Sondagaand 8 Augustus. Sy word begelei deur Bram Potgieter (klavier) en Laurika Steenkamp op viool.
Vanjaar se dramas sluit in Dinsdae by Morrie met Chris van Niekerk en Pedro Kruger, My Sarie Marais, deur Deon Opperman asook Die Ryk Weduwee, die klassieke klug deur Uys Krige. Vir meer inligting, besoek kalfiefees-hermanus.co.za.