Vreemde DNA duik op
2005-09-22
AMPER kaalkop met swart jakkie en jeans, het die beskuldigde Shaun Arendse in die doods-verkragtingsaak van sy dogtertjie, Vrydag rustig en bedaard in die Paarl streekhof verskyn.
Cameron Chordnum (2) is op 21 Mei dood nadat sy die nag in haar pa se bed in Impalastraat, Chicago, geslaap het. Sy is die nag verkrag en vermoor.
Die semen wat aan forensiese DNA-toetsing onderworpe was, en wat deurslaggewend sou wees in sy borgaansoek, is nie dié van Shaun (21) nie.
Daar kon ook nog nie bepaal word of die skaamhaar wat op die sokkie van die kind gevind is, ooreenstem met dié van Shaun nie.
In haar betoog vir borgtog, het prokureur Christelle Hermann aangevoer dat die beskuldigde nooit ontken het dat hy in die teenwoordigheid van die kind was voor haar dood nie.
Shaun het sy samewerking gegee om sy hare te laat groei sodat die staat oor vier weke weer ’n haarmonster kan bekom.
Landdros Eugenia Jacobs het ná ’n uitgerekte borgaansoek Vrydag borgtog geweier weens die erns van die aanklag en verklaar dat dit nie in belang van geregtigheid is om hom vry te laat nie.
Shaun bly in aanhouding by Allandale.
Die saak is weer op die hofrol vir 14 November. Dit is ook na die Direkteur van Vervolging verwys vir beslissing wáár die saak verhoor gaan word.
Shaun se gesin was voor die weiering van die borgaansoek oortuig daarvan dat hy vrygelaat sou word.
Ná die hofverrigtinge was hulle buite die hof onseker oor sy toekoms.
“Ons kan ook maar net wag en sien wie die skuldige regtig was,” het ’n suster gesê.
* The DNA tests on body fluids of a young Paarl father could not be linked to the fluids found on the body of his murdered baby.
More
News
|