Rugby-flitse
2010-06-17
VILLAGERS VERNIEL EAGLES
Die eerste rugbyspan van Newton Villagers het Saterdag ’n wegholoorwinning behaal oor Eagles van Malmesbury, op laasgenoemde se agterplaas. Die 35-7 eindtelling is ’n akkurate weerspieëling van die wyse waarop Villagers hul opponente gedomineer het, met die besoekers se voorspelers wat die grondslag vir ’n kragvertoning gelê het. Met rotsvaste verdediging en gevaarlike dryfmaalbewegings deur Villagers, het die tuisspan nie ’n kans gestaan nie. Villagers se uitblinkers voorlangs was Mario Gleves (1 drie), Tenk Lewis, Tamatie Davids (1 drie) en Wayne Blood. Ander driedrukkers vir Villagers was Jos Juries en Squeezy Juries (2 drieë). Papie Juries was suksesvol met 2 strafdoele en 2 doelskoppe. Villagers se tweede span het 0-3 verloor.
RANGERS KLOP YOUNG STARS
Verlede Vrydag het Paarl Rangers die tweede ronde van hul liga met ’n 10-7 oorwinning oor Young Stars afgeskop. Dié oorwinning plaas Rangers in die tweede plek op die punteleer ná tien wedstryde, met UWC wat die eerste posisie beklee. Young Stars lê tans sewende. Rangers se enigste drie is gedruk deur Roger Ruiters terwyl Sergeo Nortje met ’n doel- en ’n strafdoel geslaag het. Rangers II het 3-0 geseëvier terwyl die derde span die knie met 10-5 moes buig. Rangers het eerskomende naweek ’n loslootjie.
HILLCREST VAL WEER VAS
Die manne van Wellington, Hillcrest United, is tans aan die verkeerde kant van die liga-punteleer, ná Hopefield hulle die afgelope naweek met 25-14 in Mbekweni geklop het. ’n Gebrek aan dissipline en selfvertroue is besig om dié span in trurat te laat beweeg. Die terugkeer van ervare spelers soos Mario Jones, John Abrahams, Conroy Gertse asook die voormalige afrigter Denzil Domoney sal hopelik weer momemtum aan die span verskaf. Vir Hillcrest het Emeal Booysen twee drieë gedruk wat beide deur Garth Abrahams verdoel is. Die komende naweek reis Hillcrest na Darling. Die bus vertrek om 10:00 vanaf Mannies teen R50 per persoon.
More
News
|