Blues beroof Vineyards van onoorwonne status
2010-06-17
Jaco van Wyk
HOEWEL Vineyards nog nie onttroon is as liga-voorlopers van die Paarl-streek nie, het die maroen-truie hul onoorwonne status die naweek prysgegee ná afloop van ’n 28-35 loesing deur Laer Paarl. Saterdag se kragmeting, die enigste Streekliga-wedstryd wat die naweek plaasgevind het, is teen ’n vinnige tempo gespeel op die Daljosafat-stadion. Opwindende lopies deur Blues se Lee Blaine het Vineyards deurgaans aan die raai gehou en het op ’n kol ook leiding gegee tot ’n skitter-drie. Die vlugvoetige heelagter Cheslyn Booysen en die generaal-losskakel Delwayne Carolissen het die nodige vonk in die agterlyn verskaf. Voorlangs het Randy Hill, John Johnson en Donnie Fredericks vir die sagmaakwerk gesorg. Gerswin Davids (2 drieë), Gueron Kulsen (1 drie) en Blaine (1 drie) het Blues se drieë gedruk. Delwayne Carolissen het geslaag met 3 doelskoppe, ’n skepdoel en 1 strafdoel. Vineyards se tweede en derde spanne het hul wedstryde met 16-10 en 11-0 onderskeidelik gewen. ) Volgens WP Klubrugby se webtuiste (www.wpclubrugby.co.za) is Vineyards die huidige Paarl Streekliga-voorlopers met 43 punte (11 wedstryde gespeel; 8 gewen, 2 gelykop en 1 verloor). Riverstones lê tweede met 28 punte (8 gespeel; 5 gewen; 2 gelykop en 1 verloor). Laer Paarl lê derde met 26 punte (8 gespeel; 5 gewen; 1 gelykop en 2 verloor). Die res van die spanne lê tans soos volg (aantal wedstryde gespeel en liga-punte volg in hakkies): Young Gardens (8 gespeel; 25 punte); Young Standards (8 gespeel; 22 punte); Albions (7 gespeel; 22 punte); Simondium (7 gespeel; 18 punte); Windmeul United (6 gespeel; 12 punte); Allandale (9 gespeel; 12 punte); Violets (9 gespeel; 9 punte); Pêrel United (7 gespeel; 1 punt). ) Wedstrydbepalings vir eerskomende Saterdag (19/06/2010) is soos volg: Laer Paarl vs Young Standards (Daljosafat-stadion); Windmeul vs Riverstones (Windmeul); Allandale vs Simondium (Drakenstein); Young Gardens vs Vineyards (Gardens Park); Pêrel United vs Violets (Daljosafat D). Albions het ’n loslootjie.
More
News
|