HIERMEE wil ek graag my misnoeë uitspreek oor die stief behandeling wat ons as inwoners van Newton-Oos van Drakenstein Munisipaliteit ontvang.
Op 14 Junie moes ons vanaf 18:00 tot 22:30 weer eens die ongerief verduur om sonder elektrisiteit klaar te kom, terwyl ons bure te Vanwyksvlei, Wellington, Mbekweni en Paarl in gerief voortlewe.
Die ou verskonings dat ons ons beurt moet afwag, word nou afgewater en grens aan onbevoegdheid óf swak dienslewering.
Vir die afgelope paar maande ondervind ons gereeld water- en kragonderbrekings en moet ons maar die flou verskonings van Noodbeheer gelate aanvaar.
Ook is die ingangspad te Newton vir twee weke gesluit sonder dat daar vooraf padtekens te Bo-Dal- en Vlakkeland-straatkruisings aangebring is om motoriste te waarsku van die ompaaie.
Die pad is nou weer oop, maar daar is nou baie slaggate weens die reën en ons moet dit maar gelate aanvaar.
Die minste wat ek vra as ’n belastingtingsbetaler en inwoner is dat die Munisipaliteit ons in kennis moet stel van onderbrekings, hetsy deur ’n brief of per luidspreker. Verder moet die kontrakteur wat die waterpype aangebring het, toesien dat die slaggate opgevul word tot tyd en wyl die teerproses sal geskied.
Colin Petersen
Die munisipale skakelbeampte, May Carolissen, reageer: Eskom se substasie wat aan Wellington elektrisiteit verskaf, het meer as ’n jaar gelede uitgebrand en hulle het tydelik ’n mobiele substasie aangebring terwyl die permanente substasie herbou word.
Die tydelike substasie is egter nie groot genoeg om die hele Wellington van krag te voorsien nie en die munisipale elektrisiteitsdepartement moes ’n tydelike konneksie maak vanaf Paarl se distribusiestelsel om ’n gedeelte van Wellington (Newton/ Van- wyksvlei) van krag te voorsien.
Hierdie toevoer, wat ’n oorhoofse lyn is, het ’n fout gehad wat die oorsaak van die onderbreking was, in Newton en gedeelte van Vanwyksvlei, terwyl die ander gebiede nie geaffekteer was nie.
Daar bestaan steeds ’n groter risiko vir kragonderbrekings na hierdie twee areas wat ongelukkig sal voortduur totdat Eskom hulle substasie weer in werking stel. Dit behoort teen die einde van hierdie jaar te wees.