Plan met rommelstrooi
2010-06-24
Johan Nel
’n SPLINTERNUWE weegbrug gaan eersdaags by Wellington se rommel-stortingsterrein in gebruik geneem word as deel van die Munisipaliteit se veldtog om van Wellington en omstreke ’n leier te maak in die stryd teen rommelstrooi. So het Ronald Brown van Drakenstein Munisipaliteit se afdeling reinigingsdienste onlangs op ’n vergadering van Wellington se Aksie teen Rommelstrooi gesê. Volgens hom maak die nuwe weegbrug deel uit van die munisipaliteit se veldtog om nie bloot ontslae te raak van die nagenoeg 300 ton rommel wat daagliks by die stortingsterrein ontvang word nie, maar veral om voortaan die klem meer op herwinning te laat val. “Wellington se Aksie teen Rommelstrooi is ’n voorbeeld van hoe die gemeenskap die munisipaliteit se hande kan sterk in ons pogings om van Wellington ’n modeldorp in die stryd teen rommelstrooi te maak.” Rommelstrooiing gaan voortaan oor ’n wye front beveg word - van skoolprogramme om kinders vroeg reeds van rommelstrooi bewus te maak tot die instel van boetes of ander gepaste strawwe vir rommelstrooiers en groter klem op meer volhoubare metodes om van rommel ontslae te raak. Brown het die vergadering die versekering gegee dat hy en sy departement daartoe verbind is om in die komende maande alles in die stryd te werp om van Wellington ’n rommelvrye dorp te maak.
More
News
|