Hillcrest steeds sonder sege
2010-06-24
DIE eerste rugbyspan van Hillcrest in Wellington kan ietwat ongelukkig voel oor Saterdag se verloor teen Darling. Hulle het die wedstryd met 18-12 verloor. Al was hulle aan die verloorkant, is daar positiewe aspekte van hulle spel wat hulle in die wedstryde wat voorlê, meer gedug kan maak. Die manne het alles met totale oorgawe gedoen en in die laaste 15 minute moes Darling alles uithaal om ’n begeesterde Hillcrest van hul doellyn af weg te hou. Die afrigters sal hierdie week beslis aandag aan die lynstane en spel by die afbreekpunte moet skenk. Vir Hillcrest het Weezo Zeeland en Randall Rudolph drieë gedruk en Conroy Gertse het met een doelskop geslaag. Hillcrest se naasbestes (8-12) en die derde span (16-17) moes ook die knie voor die Darling-spanne buig. Saterdag reis die span na Vredenburg. Die bus vertrek om 10:30 (R50 per persoon).
More
News
|