Pniel verras Primrose
2010-06-24
IN ’n baie gelykop rugbywedstryd het Pniel Villagers daarin geslaag om die tweede geplaaste Primrose met 15-11 te klop nadat hulle met waterdrinktyd reeds met 7-5 voorgeloop het. Die grondslag vir die oorwinning is deur die tuisspan se pak voorspelers gelê, wat nie ’n enkele tree prysgegee het vir die kragspel van die besoekers se voorspelers nie. Op losskakel was Stefanus Cedras die generaal wat besit goed gebruik het met taktiese skoppe om sy span op die voorvoet te hou. Regtervleuel Gavin Petersen was prominent en sy goeie werk is netjies afgerond, ná goeie dinkwerk van die skrumskakel, Edwin Meyer, met ’n opportunistiese drie. Charlston Williams (agsteman), was kookwater op die aanval sowel as die verdediging. Drieë is aangeteken deur Dimitri Noble en Gavin Petersen. Stefanus Cedras het ’n straf- en doelskop deur die pale gejaag. Pniel se wedstryd Saterdag teen Bellville word op die tuisveld beslis. Die derde span begin 13:30, die tweedes 14:45 en die eerste span om 16:00.
More
News
|