Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Sportster na Junior Spele

Sportster na Junior Spele
 
2010-06-24

Jaco van Wyk

MET twee goue medaljes by die Suidelike Streek Jeugkampioenskappe het Schalk Burger sy plek in die SA Jeugspan bespreek om in Augustus aan die Junior Olimpiese Spele in Singapoer te gaan deelneem.

Schalk is ’n yster op die atletiekbaan, waar hy meer dikwels as nie, hakskene wys vir sy teenstanders in die 110m en 400m hekkies-items.

Maar Schalk, die enigste seuns-atleet van die Wes-Kaap wat die SA Jeugspan gehaal het, het nie oornag in die hekkies-blits verander wat hy vandag is nie.

Dié 17-jarige koshuisleerder van Hoërskool Gimnasium, wat eintlik uit Kakamas se wêreld in die Noord-Kaap afkomstig is, is ’n natuurlike atleet, maar volgens sy afrigter, die Wellingtonner Rudolf van Heerden, moes hulle baie insit om dié hoogtes te bereik.

“Schalk is gelukkig nie een van daai ouens vir wie jy oefenveld toe hoef te smeek nie,” vertel Van Heerden, wat deesdae voltyds hekkies afrig by Gim.

“Schalk is baie gemotiveerd, gedissiplineerd, passievol en prestasie-honger,” sê Van Heerden.

“Hy is altyd bereid om meer te gee as wat ’n mens van hom vra en bo en behalwe sy wil om te presteer, is Schalk ook nederig, wat dit maklik maak om met hom saam te werk.”

Schalk het verlede jaar nog vir Gim se o.16A-rugbyspan uitgedraf en hy het baie belofte getoon.

Uiteindelik moes hy egter sy toks ophang, omdat die risiko om beseer te word vóór atletiekbyeenkomste altyd groot sal wees.

Toe die geleentheid aanbreek om saam met Van Heerden te werk, was die besluit om rugby te los egter minder swaar op die hart, sê Schalk.

“Ek het geweet dat my afrigter die beste uit my na vore sal bring weens die goeie prestasies wat hy al met vorige atlete behaal het,” vertel Schalk.

Van Heerden is ’n gesoute afrigter en het reeds verskeie atlete afgerig wat uiteindelik SA-spanne gehaal het.

Van Heerden, wat ook al SA Meriete-toekennings vir afrigting ontvang het, glo aan harde werk, maar ook aan ’n sielkundige benadering tot voorbereiding.

“As ’n ou se kop reg is, is die moeilikste deel van my taak reeds verrig.

“Gelukkig is Schalk een van daai ouens wat sielkundig sterk is.”




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za