Rugby-flitse
2010-07-01
VILLAGERS NEWTON WEN STEEDS
Newton Villagers het Saterdag vir Evergreens van Stellenbosch met 9-7 op hul tuisveld geklop. Villagers het voorlangs gesukkel, met die gevolg dat Evergreens eerste kon punte aanteken. Verder was daar egter baie min hoogtepunte in dié wedstryd, hoewel Villagers se nuwe vonds, Ghato Appollis, uitgeblink het onder die voorspelers. Puntemakers was Papie Juries (2 strafdoele) en Sean Paulse (1 strafdoel).
PEOPLES SUKKEL VOORT
Young Peoples se gesukkel in die WP Superliga B-kompetisie het die afgelope naweek voortgeduur toe hulle met 8-22 teen Belhar verloor het. Die rustydtelling was 8-19 vir die wenspan. Peoples se enigste drie is gedruk deur Luantion Abelse. Dominic Daniels het ’n strafdoel bygevoeg. Eerskomende Saterdag speel Peoples teen Hands and Hearts op Faurestraat.
WELLINGTON VAL VAS
Met die aanbreek van rustyd en die telling 14-12 in Wellington se guns, was die voorlopers nog vasbeslote om ’n oorwinning oor Saldanha te behaal. Saldanha het egter hard teruggeveg in die tweede helfde om 36-20 te wen. Eben Heunis en Pieter Brynhard het elk ’n drie vir Wellington gedruk, terwyl Nickus Berg beide drieë verdoel het en ook 2 strafdoele bygevoeg het.
ALBIONS VERGADER
Albions Rugbyklub hou 5 Julie hul algemene jaarvergadering te Bethel Congregational (19:00). Alle lede is welkom
More
News
|