Roses klop Ceres in taai stryd
2010-07-01
ROSES UNITED moes verlede Saterdag op die CPUT-veld alles in die stryd werp om ’n begeesterde Ceres met 26-22 te klop. Soos nou al talle kere dié seisoen die geval was, het die Rose talle kanse om punte aan te teken verbrou met swak afronding. In die eerste helfte het die Rose groot gebiedsvoordeel geniet en talle aanvalle vanuit uit hulle eie halfgebied geloods. Slegs rotsvaste verdediging deur die besoekers het verseker dat die Rose nie meer punte kon aanteken nie. Ná rustyd het die besoekers met hernieude vuur gespeel en die Rose ’n paar keer benoud gehad. Ná twee vinnige drieë deur Ceres moes Roses hard keer. Die Rose se groot uitblinker was hul skrumskakel Percival Williams. Laasgenoemde het met groot durf gespeel en sy teenstanders behoorlik laat bontstaan met sy skitterende spel. Brendan April, wat goed op pad is om ’n rekord aantal drieë dié seisoen te druk, het weer 3 keer agter die pale gaan kuier. Williams het die Rose se vierde drie gedruk en Divan Roems was suksesvol met 3 doelskoppe. Die Rose het eerskomende naweek ’n loslootjie en speel op 10 Julie teen Saldanha op laasgenoemde se tuisveld.
More
News
|