Kavaliers wil Leeus tem
2010-07-01
Jaco van Wyk
DIE Boland Kavaliers se vriendskaplike wedstryd teen die Goue Leeus, eerskomende Saterdag op die Boland-stadion, dien bloot as voorbereiding vir die komende Curriebeker-seisoen. Dit is die mening van die Boland Kavaliers se direkteur van afrigting, Eugene Eloff. “Saterdag se kragmeting is maar net nog ’n wedstryd en die uitslag is irrelevant,” sê Eloff, wat voorheen juis die einste Leeus-span afgerig het. “Ons gaan veel eerder fokus op die uitvoering van ons wedstrydplan as op die eindtelling.” Eloff het dit egter duidelik gemaak dat dit sy span se doelwit is om vanjaar die eerste divisie van die Curriebeker te verower en gevolglik promosie tot die premier-afdeling te verwerf. Boland skop hul Curriebeker-veldtog op 24 Julie af met ’n weg-wedstryd teen die Valke. “Daar heers tans ’n goeie gees in die span en ons is al reeds ’n geruime tyd hard aan die oefen,” sê Eloff. Bo en behalwe die ou staatmakers van Boland Rugby, soos die kaptein Hottie Louw (slot), die senters Dewey Swartbooi en PJ Vermeulen en die stut Janro van Niekerk, het Eloff en die bestuur ook ’n aantal nuwe spelers na Wellington gelok. Onder die nuwe spelers tel ook ’n plaaslike klubspeler of twee, wat hand opgesteek het in die Premierliga van die Boland. Die blitsige vleuel Brandon April is een so ’n klubspeler, wat tot dusver vanjaar die doellyn met reelmaat oorgesteek het vir Roses United. April, wat voorheen vir die Valke en vir Maties uitgedraf het, se insluiting onder die plaasvervangers beteken dat hy moontlik Saterdag as impakspeler aangewend kan word. “Ons hele filosofie was juis om spelers vanuit die Boland terug te lok en om ook na ons plaaslike klubspelers te kyk,” sê Eloff. “Later vanjaar sal ons weer na ons klubspanne kyk.” Nuwe toevoegings tot Boland se monster-pak voorspelers, is die flank Braam Immelman, die slot Rodney Labuschagne en die stut Charl du Plessis, terwyl Chris Mickelwood (losskakel), Alex Kock (skrumskakel) en Dan Johnson (vleuel) sal help om die vonk agterlangs te verskaf. Oor die feit dat Eloff Saterdag teen sy voormalige span te staan kom: “Dit is niks om oor emosioneel te raak nie,” sê Eloff. “Dit is eenvoudig ’n vriendskaplike wedstryd wat sal dien as goeie voorbereiding vir albei spanne.” Boland se span vir Saterdag is: 1. Janro van Niekerk, 2. Clemen Lewis, 3. Rossouw Kruger, 4. Roderick Lauschagne, 5. Hottie Louw (kaptein), 6. Franzel September, 7. Braam Immelman, 8. Zandre Jordaan, 9. Alex Kock, 10. Chris Mickelwood, 11. Dane Johnson, 12. Dewey Swartbooi, 13. PJ Vermeulen, 14. Cornal Hendricks, 15. Jaquin Jansen, (plaasvervangers) Ashton Constant, Charl du Plessis, Nikolai Blignaut, Grant le Roux, Willie le Roux, Junius Pieterse, Lionel Cornelius, Eusebio Guinazu, Andre du Toit, Brandon April en Wesley Kotze.
* Saterdag se wedstryd tussen die Boland Kavaliers en die Leeus op die Boland-stadion, skop 16:00 af. Boland se o.21’s sal in ’n voorwedstryd in aksie wees (om 14:00) teen die Blou Bulle. Dit sal Boland se o.21-span se eerste liga-wedstryd van die seisoen wees.
Kaartjies kos R30 vir volwassenes en kan by die stadion gekoop word. Kinders o.18 jaar kry gratis toegang.
More
News
|