Vakansiepret hou net nie op nie!
2010-07-01
TYDENS die lang skoolvakansie gaan verskeie opvoedkundige aktiwiteite wat deur organisasies aangebied word om die jeug te vermaak, steeds voort. Badisa Paarl, in samewerking met VGK Zions, Amharic Youth Development, Koinonia, Paarl-Oos SAPD, die Gemeenskapspolisieforum (GPF), Drakenstein Munisipaliteit en die Interkerklike Forum, bied tydens die vakansie elke Maandag, Woens- dag en Vrydag vanaf 09:00 tot 13:00 verskeie aktiwiteite soos lewensvaardighede, omgee en uitreik en motiveringsessies. Diegene wat wel opdaag, ontvang ook verversings en ’n maaltyd. Petdro George, ’n maatskaplike werker by Badisa Paarl, sê dat hierdie vakansie- program ten doel het om konstruktiewe vryetydsbesteding te bevorder. Verder noem hy ook dat dit lewensvaardighede ontwikkel en ’n positiewe lewenswyse bevorder. Die program is deel van Badisa se jaarprogram wat ten doel het om maatskaplike kwessies soos veiligheid en sekuriteit, dwelms en bendes aan te spreek. Badisa beywer hulle in samewerking met ander rolspelers in hul bedieningsgebied om gestalte te gee aan hul missie van aktiewe betrokkenheid. Petdro George en Francelyn Lekay, twee passievolle en ervare maatskaplike werkers van Badisa Paarl, gee hul volle ondersteuning aan gemeenskapontwikkeling en liefde aan kwesbare kinders. Ná hierdie vakansie-opleiding glo Petdro dat hierdie kinders meer selfvertroue sal hê, sal weet hoe om hul probleme op te los, spanwerk te doen, te kommunikeer en besluite te neem. Een van die deelnemende organisasies, Good Hope Sielkundige Dienste, se Jolene Profitt glo dat die jeugdiges baie entoesiasties is oor hul vakansieprogram wat by Butterfly House in Fairyland gehou word. “Die kinders geniet die aktiwiteite en neem lekker deel daaraan. Dis wonderlik om so baie kinders elke dag hier te hê om mee te werk en meer van hulle te leer,” sê sy. Skole soos Wellington Hoërskool en Klein Nederburg bied ook ekstra klasse vir hul matrieks om hulle vir die eindeksamen voor te berei.
More
News
|