DIE Bôrdienghuis-teater op Wellington bring op Vrydag 2 Julie en Saterdag 3 Julie om 20:00 hulde aan Tolla van der Merwe in die musiek- en storieprogram, Konsert van die lewe. Vrydagaand is reeds uitverkoop.
In hierdie vertoning onthou Tania du Toit, skrywer van die pas verskene Tolla-biografie “Konsert van die lewe”, saam met Wikus van der Merwe, Alan Hughes en Leon Beukes, vir Tolla van der Merwe vir sy eiesoortige taal en humor.
Die aand sal ingekleur word met staaltjies, herinneringe en musiek. Tolla se seun, Wicus van der Merwe, sal nie net sy herinneringe van sy pa deel nie, maar ook van sy bekende treffers sing.
Beide Leon Beukes en Allan Hughes is gesoute storiemanne wat die publiek sal onthou vir hulle televisie-bydraes op ‘Maak ‘n Las’ en ‘Stoepstories’. Beukes sal die gaste ook vermaak met sy eie musiekoptrede.
Du Toit se boek is so gewild dat die tweede druk daarvan reeds op die winkelrakke is. Van haar kortverhale, poësie en kinderverse verskyn sedert 2002 in bundels en tydskrifte.
Kaartjies is R80 per persoon en kan bespreek word by Magdel Meyer by 072-115-2913.