Raadslid 'het nie bedank'
2010-07-01
Anne Kruger
’n FRANSCHHOEKSE ANC-raadslid, Gordon Pheiffer, is in ’n onderonsie met die Stellenbosse stadsvaders betrokke, nadat ’n brief waarin hy teenoor sy party aangedui het dat hy uit die stadsraad wil bedank, in die hande van die munisipale bestuurder beland het. Volgens Pheiffer het hy ’n brief gerig aan die ANC-sweep op Stellenbosch, Willie Ortell, waarin hy genoem het dat hy van voorneme is om uit die Raad te bedank, wat tans deur die DA-koalisie beheer word. Volgens Pheiffer het die party egter aangedui dat hy moet aanbly tot die einde van die huidige stadsraadstermyn, wat volgende jaar ten einde loop, om ’n tussenverkiesing te vermy. Die brief het op een of ander manier in die hande van die munisipale bestuurder van Stellenbosch, Doepie du Plessis, beland, wat die Onafhanklike Verkiesingskom- missie ingelig het dat die setel vakant is. Pheiffer het toe ’n tweede brief aan die Raad gerig, waarin hy aandui dat hy sy bedanking terugtrek. Ten spyte daarvan, is die Onafhanklike Verkiesingskommissie deur die munisipale bestuurder ingelig dat die setel vakant is. Volgens Pheiffer, wat volhou dat hy steeds ’n raadslid is, het hy ’n kriminele klag by die polisie gelê, wat nou ondersoek hoe die eerste brief, wat aan die ANC-sweep gerig was, by die munisipale bestuurder uitgekom het. ’n Finale besluit oor die proklamasie van ’n tussenverkiesing al dan nie, moet nog deur die Minister van Plaaslike Bestuur, Anton Bredell, geneem word, maar Maandag het die ANC-koalisie se raadslede in ’n “rebellie-vergadering” glo ’n nuwe munisipale bestuurder aangewys. * A Franschhoek town councillor denies that he has resigned.
More
News
|