Vuvuzela slagoffers by haarsalon
2010-07-01
DIE personeel van ’n haarsalon in Paarl Mall sal nie vanjaar se Wêreldbeker-sokkertoernooi sommer gou vergeet nie. En nog minder die dag (verlede Dinsdag) toe Bafana Bafana met die Franse kragte gemeet het nie. So tussendeur die haarknip en stileer was daar darem kans om kort-kort ’n ogie op die televisie te hou om te sien hoe Bafana Bafana vaar, maar hulle het nie rekening gehou met sogenaamde “kliënte” wat nie in haarsny of die sokker belang gestel het nie. Drie goedgeklede vroue het Titanium Hair Design binnegestap met ’n man met ’n vuvuzela agterna. Niemand was by die ontvangs nie en almal was besig met kliënte en het die sokker so met die een oog dopgehou, vertel die personeel. “Die man het op die vuvuzela geblaas, seker maar om ons aandag af te lei,” sê Mikélé Holtzhausen, een van die haarkappers. “Die drie vrouens het aanvanklik om een van die haarkappers, Leticia, gestaan. Hulle het nogal gevra wat die telling is. Toe het die man hard op die vuvuzela geblaas om sy sokkergees te toon. Ons almal was besig met kliënte en het nie opgelet wat gebeur nie. “Dit is seker tóé dat hulle met die grys geldblik wat onder die toonbank was, vort is. “Ons het later op die beeldmateriaal van die sekuriteitskameras gesien hoe een vrou verdag rondgekyk het toe sy uit die salon gestap het. “Leticia het agterna gehardloop toe sy besef wat gebeur het. Die vier het weggehardloop, in ’n motor gespring en weggejaag.” “Gelukkig het ons nie baie kontant in die blik gehad nie. Die meeste kliënte betaal in elke val met kaarte,” sê sy. Kapt Louise du Plessis van Paarl Polisie sê die Polisie ondersoek tans die voorval. Dié vierstuks, vermoedelik Xhosa-sprekend, is ook vroeër by ander winkels gesien, maar geen ander gevalle is aangemeld nie. * Four thieves who distracted the clients of a hair salon by blowing a vuvuzela, made off with the cash.
More
News
|