Ena se hel is verby
2010-07-01
Sieb Sieberhagen
UITEINDELIK is Ena se hel verby. Vroeg Vrydagoggend, net na middernag, is Ena, ’n leeuwyfie-welpie van ses maande wat uit die kloue van wreedaardige sirkusbase in Frankryk gered is, by die Drakenstein Leeupark ’n kans op nuwe lewe gegee. Die bestuur van die leeupark het haar Vrydagoggend met eerste lig in haar kamp vrygelaat. Sy het verlede week in die land aangekom, nadat haar redding georganiseer is deur die Assistance Aux Animaux en die Bridget Bardot stigtings. Die jong leeu is in uiters haglike omstandighede gekry, weggesteek onder ’n klomp goed in een van die sirkus se perdewaens. Haar gesig en pels wys nog steeds hoe sy in haar kort lewe mishandel is. Sy is maar nog baie skugter, maar wat wel verblydend is, is die feit dat sy Sondagoggend haar hok op haar eie verlaat het en die wêreld begin verken het, sê Paul Hart, eienaar van dié park. Bedags hou sy haar maar skaars - sy kruip weg in ’n holte in die grond in haar kamp. “Ons is baie dankbaar teenoor Elizabeth Eistob wat goedhartig bygedra het om Ena se kamp in te rig,” sê Paul. “Ons is ook baie dank verskuldig aan Animal Travel Services en Havillam Abrahams van Highmoor Freight wat Ena gratis Suid-Afrika toe gebring het.” Die Drakenstein Leeupark, wat in 1998 gestig is, is alombekend as ’n inrigting wat ’n toevlugsoord is vir mishandelde diere van die groot katfamilies. “Mishandelde diere, wat ongelukkig nie weer in die natuur vrygelaat kan word nie, kry hier ’n tweede kans op ’n beter lewe,” sê Hart. “Daar word glad nie by ons geteel nie. Ons gee die versekering dat, solank die diere hier tuisgaan, hulle goed versorg sal word,” sê hy. * A lion cub which suffered maltreatment in a French circus, is recovering after being taken in by the Drakenstein Lion Park.
More
News
|