Plaashuis in puin - brandstigting vermoed
2010-07-01
Sieb Sieberhagen
BRANDSTIGTING word vermoed nadat ’n brand verlede Saterdagaand net ná 20:00 die huis van die Mouton-gesin op die plaas Vergesig buite Wellington in puin gelê het. Etlike miljoene rand se skade is veroorsaak. “Een van ons werkers het ons Saterdagaand gebel en gesê dat die plaashuis brand. Ons was toe in die Suid-Kaap vir die naweek,” sê Riaan Mouton, eienaar van Vergesig naby Groenberg. Dié brand, wat die plaashuis en al sy inhoud in puin gelê het, se oorsaak word nog ondersoek en ’n sterk vermoede bestaan dat brandstof gebruik is om die brand aan die gang te kry. Behalwe die skade aan die huis, is daar ook by van die buitegeboue en kantoor ingebreek. Vleis is gesteel en daar is in die kantoor rondgekrap. Maandagoggend was die toneel somber en swart en kort-kort het een van die gesinslede iets uit die as en roet opgediep terwyl forensiese ondersoekers en die polisie met flitsende kameras die toneel gefynkam het. Alles het volgens buurvrou Susan Laubscher, van die plaas Wamakersvallei, kort voor 20:00 gebeur. “Ons het onraad gemerk, gaan kyk en toe dadelik na ons plaas teruggekeer om die brandweer te kontak en om tuinslange te kry. “Toe ons terug is op Vergesig was die helfte van die huis al aan die brand. Die brandweer was baie gou op die toneel, maar dit was ongelukkig te laat. “Ons het selfs probeer om die vlamme met tuinslange te beveg, maar die krag van die waterpomp op die Vergesig-werf was af,” sê sy. Die brand het vermoedelik in een van die slaapkamers langs die stoep aan die oostekant van die huis begin en vinnig deur die sterk oostewind versprei. Vier brandweervoertuie van Drakenstein Munisipaliteit was op die toneel, maar toe was die huis reeds in ligte laaie, het ’n woordvoerder van die brandweer gesê. Wynland Distriksmunisipaliteit se brandweer was ook later op die toneel, maar alles was tevergeefs. Die plaashuis en die inhoud is totaal verwoes. “Ons vermoed dat dit brandstigting was,” sê Riaan Mouton. Speuradjudant William Pietersen van die Wellington Polisie kon dié vermoede Woensdagoggend nog nie bevestig nie, maar sê dat hulle besig is met die ondersoek. Die Moutons bly die afgelope 37 jaar op dié plaas en deur die jare het hulle verskeie antieke meubelstukke versamel. Een baie gesogte satynkas wat in die 1800’s gemaak is, het ook in die slag gebly. “Dit is glad nie lekker om so-iets te sien nie. Wat kan mens tog doen - ons moet maar aangaan. Ek voel ons kan weer begin, dit is tog net aardse goed. “Dit is net hartseer, want ons het nou niks. “Van ons vriende en bure sê dat dit aan die een kant goed was dat ons nie hier was nie. Dit was glo baie erg om te aanskou,” sê Mouton. * A Wellington family lost their home on a local farm, following suspected arson by a burglar.
More
News
|