Paulus Joubert oudleerders organiseer
2010-07-01
DIE oudleerders van Paulus Joubert Sekondêr het hulself georganiseer en die PJ Ondersteuningsfonds gestig. Die doel van die Fonds is om die skool se beeld na binne en na buite te verbeter en die skool te help om weer sy regmatige plek in die gemeenskap en onderwyssfeer in te neem. Die Fonds is ook van voornemens om die skool finansieel te ondersteun en ’n bydrae te lewer tot beter onderwysmiddele by die skool. Verskeie projekte in samewerking met die skool is geïdentifiseer wat deur die oudleerders aangepak sal word. Ten einde te slaag in hierdie doel, is die ondersteuning van alle oudleerders van die skool van kardinale belang. Tans is die oudleerders besig met werwing en ons versoek alle oudleerders, oud-onderwysers en ondersteuners om hulle besonderhede aan die skool te stuur ten einde die databasis op datum te kry. Tans borg die oudleerders twee behoeftige matriekleerders en loop ’n pad vir die jaar met die leerders op alle gebiede. ’n Werkswinkel met die onderwysers en die oudleerders is ook aangebied om probleme by die skool te identifiseer en toekomstige samewerking te bespreek. Verskeie projekte om die skool te verfraai en op te knap is ook onder bespreking en daar sal eersdaags daarmee begin word. Klem sal veral geplaas word op die verbetering, uitbouing en onderhoud van die infrastruktuur en om die skool weer gemeenskapsvriendelik te maak. Die beskermheer van die fonds is oud-leerder Patrick Ross, alombekende en gerespekteerde Paarlse regsgeleerde. Die Fonds het die ondersteuning van die skool en die beheerraad. Die skool het nou sy oudleerders nodig en u bydrae, insig en hulp is belangrik en nodig om die skool na die volgende vlak te neem. Nihil Difficulius
More
News
|