Dankie vir verbetering van Hoofstraat
2010-07-01
EK wil graag namens die inwoners van Noorder-Paarl dankie sê aan die provinsiale, sowel as ons plaaslike owerheid, vir die vernuwing van Hoofstraat se teeroppervlakte in Noorder-Paarl. Dankie ook dat ’n gedeelte van die sypaadjie in hierdie deel van Hoofstraat geteer is as ’n projek aangevoor deur die wyk 17 Wykskomitee. En moet egter daarop wys dat die inwoners van Noorder-Paarl wat onderkant die Hoofstraat woon, al hoe groter verkeersprobleme ondervind wanneer tydens spitstye vanuit ’n systraat in Hoofstraat ingedraai moet word. Ook wanneer ’n voertuig stop om vanuit Hoofstraat weer in ’n systraat in te draai en daar kan nie onmiddellik ingedraai word nie, ontstaan nie alleen ’n botsing-gevaar nie, maar ’n erge opeenhoping omdat voertuie wat nie wil indraai nie, nie by die stilstaande voertuig kan verbykom nie. Hierdie situasie dwing die inwoners van Noorder-Paarl om systraatjies wat glad nie vir so ’n verkeersvolume ontwerp of gebou is, te gebruik om sodoende onder by Monte Rio by Langstraat aan te sluit. Die wykskomitee agiteer al ’n paar jaar vir ’n verkeerslig by Skoolstraat se ingang vanuit Hoofstraat. Iets sal gedoen moet word om die verkeersvloei in Noorder-Paarl te kalmeer. Veral op Vrydae en Saterdae wanneer plaasvoertuie vragte mense in Noorder-Paarl kom aflaai vir hul weeklikse inkopies, raak die verkeersvloei problematies. Ek vertrou dat die kwessie aandag sal geniet. Jean Smit
More
News
|