Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Moordverdagte pleit onskuldig

Moordverdagte pleit onskuldig
 
2010-07-08

Liezl Dyson

LUZANE HENDRICKS, wat aangekla word van die moord op ’n 18-jarige matrikulant van die Paarl, het Maandag in ’n volgepakte streekhofsaal onskuldig gepleit.

Hendricks word daarvan beskuldig dat hy op 17 April vir Reagan Wessels met ’n mes gesteek het nadat die twee ’n onderonsie gehad het. Wessels, ’n belowende matrikulant aan Klein Nederburg Sekondêr, het later dié dag in die hospitaal aan sy wond beswyk.

Die verdediging erken dat Wessels wel deur Hendricks (20) met ’n mes gesteek is. Sy verweer is egter dié van selfverdediging.

Frik Coetzee, Hendricks se prokureur, het aan die drie getuies wat Maandag getuig het, voorgehou dat sy kliënt en nog ander gaan getuig dat Wessels ’n vuurwapen op hom gehad het.

Diego Snyders, ’n jarelange huisvriend van Wessels en ’n lid van die polisie, het in die getuiebank gestaan en getuig dat hy en Wessels die dag van die voorval saam was.

Hy het vertel dat hy by Shoprite in Klein Drakensteinweg geld gaan trek het en dat Wessels en nog ’n vriend, Fabian, in die motor gewag het.

“Toe ek teruggaan na die voertuig, het ek gesien hoe Reagan en Fabian na die stalletjies loop. Ek het geroep en gewink om te vra na watter kant hulle op pad is, maar hulle kon my nie hoor nie.

“Ek is agterna na die stalletjies toe. Toe ek daar kom, het ek gesien dat Reagan en Luzane besig was om te stry.

“Met my aankoms daar het Luzane reeds die mes in sy hand gehad en ek het probeer keer, want ek kon sien iemand kan seerkry.”

Snyders het getuig dat hulle op mekaar gevloek en geskel het en dat Reagan vir Luzane geklap het.

“Nadat Reagan vir Luzane met ’n plathand in sy gesig geklap het, het Luzane die mes opgelig en vir Reagan in die bors gesteek.

“Die ouerige antie wat daar was, het toe die mes gevat, waarop die ouerige oom vir hom (Luzane) gesê het hy moet weghardloop.

“Ek het gesien dat Reagan se hemp vol bloed raak en ek het vir hom gesê dat ons by die hospitaal moet uitkom.”

Hy het ook getuig dat die mes waarmee Reagan gesteek is, omtrent so lank soos ’n liniaal kan wees en dat Reagan geen wapens op hom gehad het nie.

Nóg ’n getuie, Christiaan Kilowan, het getuig dat hy ten tyde van die voorval voor sy dogter se stalletjie by Shoprite gestaan het en gesien het hoe die oorledene en die beskuldigde staan en stry.

Kilowan het ook getuig dat hy gesien het hoe Wessels vir Hendricks klap en hoe Hendricks vir Wessels daarna met ’n mes steek.

“Toe ek nader gaan, het Hendricks se oupa vir hom gesê hy moet hardloop, toe het hy weggehardloop. Die oorledene het omgedraai en toe val hy. Ek glo nie dit was nodig vir hom om die oorledene te steek nie.”

Hy het ook getuig dat hy geen wapens gesien het nie.

Coetzee het aan die getuies voorgehou dat Wessels ’n vuurwapen op hom gehad het en dat hy ’n vrou geklap en omgestamp het.

’n Smous wat anoniem wil bly, het ook vir die staat getuig.

Hy het ook getuig dat hy gesien het hoe Wessels vir Hendricks klap en hoe Hendricks vir Wessels met ’n mes steek.

Al die getuies het egter getuig dat hulle nie gesien het dat Wessels ’n vrou klap en omstamp nie of dat hy ’n vuurwapen of enige ander wapens op hom gehad het nie.

Streeklanddros Patrick Ross het die saak uitgestel tot 4 Augustus.

Vriende en familie van Wessels het die hofverrigtinge bygewoon in T-hemde met sy gesig op.

* A murder trial in which a local man is accused of stabbing a matric student to death, was attended by friends of the deceased wearing T-shirts with his face on the front.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za