Jong vrou dood gevind in plaashuis
2010-07-08
Sieb Sieberhagen
DIE gemeenskap van Franschhoek is stomgeslaan oor die dood gisteroggend van Chanel du Toit (28) op die plaas Dieu Donné. Sy is vermoedelik vermoor. Haar man, Johan, assistent-bestuurder van die bekende wynplaas Dieu Donné, het gisteroggend omstreeks 04:00 vertrek op ’n jagtog na die Karoo, en het bekommerd geraak toe sy later die oggend nie sy foonoproepe beantwoord nie. Hy het sy ma, Ronelle, wat op dieselfde plaas woon, gevra om daar in te loer. Sy het die skokontdekking gemaak. Later die oggend wou die polisie niemand op die toneel toelaat nie en wou ook nie kommentaar lewer oor wat gebeur het nie. Intussen het familie, vriende en bure by Hennie en Ronelle du Toit se huis saamgekom om hulle medelye te betuig en te simpatiseer. Hennie du Toit, met wie Paarl Post vinnig gesels het, het gesê dat die familie nie kommentaar wou lewer nie omdat almal nog baie geskok was oor wat gebeur het. Een van die jong egpaar se bure wat ook in een van die kothuise op die plaas woon, sê dat sy gisteroggend ten tyde van die voorval niks gehoor het nie. Haar honde en die Du Toits se hond het glad nie geblaf nie, vertel sy. “Die polisie vermoed dat dit ’n inbreker was, want daar word goed uit die huis vermis,” sê sy. Chanel, wat deur vriende en kollegas as ’n baie warm persoon en ’n besondere mens beskryf word, was die afgelope drie jaar die administratiewe hoof van die Glenwood wynplaas buite Franschhoek. DP Burger, bestuurder van Glenwood, wat ook die seremoniemeester op die Du Toits se troue was verlede jaar, vertel dat die mense op Glenwood haar verskriklik gaan mis. “Johan en Chanel het mekaar sowat drie jaar gelede op Franschhoek ontmoet. Chanel, ’n nooi Pitout, was in Eldoraigne in Pretoria op skool,” sê hy. Jaco de Kock, een van die Du Toit’s se vriende, sê dat Chanel ná skool van Pretoria na Franschhoek toe gekom het, waar sy op wynplase begin werk het. “Dit is hier waar hulle mekaar ontmoet het en hulle is omtrent ’n jaar gelede getroud,” het hy gesê.
More
News
|