Boishaai-stut laat opponente klippe kou in Italië
2010-07-08
Jaco van Wyk
DIE 21-jarige Dario Chistolini is die mees onlangse produk om te heers uit Boishaai se magtige voorryfabriek. Maar moenie verwag om dié kragman binnekort in die groen en goud te sien nie. Chistolini, wat deesdae sy brood en botter in Italië verdien waar hy as vaskopstut uitblink vir die klubrugbyspan Petrarca Padova in Italië se Super 10-reeks, is onlangs ingesluit in die Italië A-span (Italië se naasbestes). Vaskopstut is ’n posisie waarna gereeld verwys word as die belangrikste posisie in enige span, veral in Europa, aangesien net die sterkstes van die sterkes dié posisie kan oorleef. Voeg hierby die feit dat stutte gewoonlik eers hul piek in hul laat-twintigs/vroeg-dertigs bereik, en ’n regverdige aanduiding word verkry van die krag waaroor Chistolini reeds op ’n jong ouderdom beskik. Chistolini, wat in 2006 gematrikuleer het aan Hoër Jongenskool, het Italië se nasionale keurders (insluitend die hoofafrigter en voormalige Springbok-afrigter, Nick Mallet) so beïndruk, dat hulle nie anders kon nie, as om hom in te sluit in Italië se A-span. Dié span het deelgeneem aan die die Nasiesbeker-toernooi teen Namibië, die Argentynse Jaguars, Georgia en Skotland A. Volgens Chistolini, wat voor sy vertrek na Europa ook vir die Boland o.21-span uitgeblink het, was dit ’n groot voorreg om dié span te haal. “Dit was ’n baie spesiale oomblik en een wat ek nooit sal vergeet nie. Al die harde werk het uiteindelik vrugte afgewerp,” sê Chistolini. Oor die Italiaanse span se deelname aan die Nasiesbeker-toernooi, sê Chistolini: “Ons het die toernooi goed afgeskop deur Argentinië en Georgia te klop. “Ongelukkig het ons in die laaste wedstryd, teen die gasheerspan Roemenië, vasgeval om derde te eindig, met Namibië wat uiteindelik die trofee gewen het.” Chistolini sê dat dit ’n moeilike besluit was om Italië toe te gaan in terme van sy vriende en familie wat hy moes agterlaat, maar terselfdertyd was dit ook ’n opwindende besluit. “Ek is ’n goeie geleentheid gegun, en ek het dit aangegryp,” sê Chistolini, wat volgens gerugte ook in die visier is van verskeie ander Europese klubs, insluitend Saracens in Engeland. Oor sy toekomsplanne vat Chistolini dit egter wedstryd vir wedstryd en dink hy nie te ver vooruit nie. “’n Mens weet nooit wat die toekoms inhou nie, maar dinge verloop tans goed aan dié kant. “My korttermyn-doelwit is net om wedstryd vir wedstryd elke keer goed te speel. “Wat my langtermyn doelwit betref, is dit elke rugbyspeler se droom om op die hoogste vlak mee te ding,” sê Chistolini. “Ek wil toetsrugby speel.”
More
News
|