Kavaliers moet spel optel
2010-07-08
Jaco van Wyk
HET die Boland Kavaliers maar net vir 80 minute gespeel soos hulle in die laaste kwartier gespeel het, was die Leeus beslis Saterdag stert tussen die bene huis toe gestuur. Drie drieë in die laaste vyftien minute het ook heelwat aansien aan die telling vir Boland verleen. Maar afrigter Eugene Eloff het dit voor die wedstryd reeds duidelik gemaak dat die uitslag van dié vriendskaplike kragmeting nie van belang is nie. Dié wedstryd, wat Boland met 29-45 verloor het, het uit en uit as voorbereiding vir die komende Curriebeker-reeks gedien. Dit is dus sweerlik die rede hoekom verskeie strafskoppe binne trefafstand van die pale, eerder lyn toe geskop is. Indien die eerste 65 minute opsy geskuif word, het die Kavaliers giftig gelyk. Boland was beslis meer mededingend ná rustyd, toe die telling 28-5 gelui het in die guns van die Leeus. Met Boland se plaasvervanger-losskakel Willie le Roux so skerp soos ’n lem, het die Leeus later nie meer geweet waar om te keer nie. En Le Roux het dit ook so maklik laat lyk om die blitse Junius Pieterse en Brendon April weg te stuur, om die verbasende groot aantal ondersteuners te bederf met tradisionele Boland-rugby. Die realiteit is egter dat Boland Saterdag hard slae gekry het en dat daar nog harde werk voorlê, voordat hul Curriebeker-veldtog oor twee weke teen die Valke afskop. Driedrukkers vir die Kavaliers was Cornal Hendricks, Junius Pieterse (2 drieë), Brendan April en Lionel Cornelius, met Jacquin Jansen wat twee van dié drieë verdoel het.
More
News
|