Blitsvinnige Bitterhout haal SA-Skole span
2010-07-08
Jaco van Wyk
BEIDE die o.18 Cravenweekspanne van die Boland en Westelike Provinsie het uitstekend gevaar tydens die o.18 Cravenweek-toernooi wat verlede week in Welkom plaasgevind het. Boland het vriend en vyand verras deur dié toernooi onoorwonne af te sluit, ná spogseges oor die Limpopo Blou Bulle (41-11), die Griffons (36-34) en Natal (49-23). Boland het ook twee spelers vir die SA Skole-span opgelewer, met Lee-Roy Bitterhout van Klein Nederburg Sekondêr die enigste Paarliet wat die nasionale span kon haal. Ná die eerste twee wedstryde het WP gelyk na een van die sterkste spanne in die toernooi, met oortuigende seges teen die Leeus (20-3) en OP (58-17). Die Streeptruie se goeie vertonings het uiteindelik ook aan hulle ’n plek in die eindstryd verseker, maar hulle het ongelukkig die knie met 42-21 gebuig in die finaal teen Vrystaat. Vyf WP-spelers het uiteindelik die SA-Skole-span gehaal, maar nie een Paarliet tel onder die uitverkorenes nie.
* Nadat Lee-Roy Bitterhout (vleuel) van Klein Nederburg Sekondêr ’n uitstekende o.18 Cravenweek-toernooi vir Boland beleef het, waartydens hy in twee van sy span se drie wedstryde aangewys is as speler van die wedstryd, is dié blitsbuks welverdiend ingesluit in die SA Skole-span.
Hoewel verskeie leerders van die Paarl- en Wellington-omgewing vanjaar die o.18-spanne van Boland en WP verteenwoordig het, is Lee-Roy die enigste speler uit díé omgewing om die SA-span te haal.
Lee-Roy het altesaam vyf drieë vir Boland gedruk, in slegs drie wedstryde, tydens sy span se onoorwonne Cravenweekveldtog.
* Soos verlede week deur Paarl Post berig is, volg die goeie vertonings van Boland en WP se o.18’s op die puik vertonings wat deur WP en Boland se meer junior spanne (o.16’s, o.18 Akademie en o.13’s) behaal is. WP en Boland het die o.16 Grant Khomo-toernooi, asook die o.18 Akademie-week onoorwonne afgesluit, terwyl WP ook tydens die o.13 Cravenweek-toernooi in al hul wedstryde geseëvier het. Boland se o.13’s het ongelukkig aldrie hul wedstryde verloor.
More
News
|