Dis 'n belediging vir belastingbetalers
2010-07-08
DEUR te sę dat ek nie moet “kerm” oor die geldvermorsing by die Grys Paleis nie, beledig onderburgemeester Wilhelm Nothnagel eintlik al die inwoners van Drakenstein wat elke maand op hul tande moet kners en hul rekeninge betaal. So kners die afgeskeepte inwoners ook op hul tande oor baie basiese dienste wat in sommige wyke ontbreek. Intussen is miljoene rande gemors op oorsese reise, hotelverblyf en duur etes deur die topstrukture se kaders, selfs nadat dit duidelik was dat Drakenstein nie ’n sokker-basiskamp gaan kry nie. Vir die globetrotters was dit ’n wen-wen situasie: kry Drakenstein nie ’n basiskamp vir die sokker nie, kon die manne darem die węreld sien. Moenie voorgee dat die kos-en-drank-onthaal by die jolkol vir “spesiale gaste” was om “Drakenstein verder te bemark” nie. Niemand met gesonde verstand val vir daardie flou storie nie. Sę liewer wie was die “spesiale gaste”, wie was kaders en hul gesinne, en hoeveel dit die belastingbetaler gekos het. Die DA maak van tyd tot tyd hofsake in belang van die publiek. Meestal wen ons, partykeer verloor ons, maar die DA betaal die regskoste, nie die publiek soos beweer word nie. Dis ook nie te sę die DA stem saam met al die hofuitsprake nie, maar dit word nogtans gerespekteer en ons weerhou ons daarvan om in die openbaar regters te kritiseer. Die publiek moet net geduldig wees, die waarheid van verlede jaar se belastingverhoging gaan nog uitkom sodra die DA volgende jaar die verkiesing wen. Daar sal dan ’n afwaartse regstelling op die publiek se verhogings gemaak word, soos met die DA se alternatiewe begroting nou onlangs voorgestel is en wat deur die ANC-beheerde raad afgestem is. Deetlefs du Toit (DA LP)
More
News
|