SOMS lewer die vaalste boeke wonderlike insigte in ons geskiedenis. So was dit in die geval van die dekade-lange broedertwis in die Strooidakkerk oor die aanstelling van Thomas Arnoldus Theron as ouderling in 1771. En dít oor die steel van leiwater.
Theron is in 1716 gebore. Sy pa Jacques Theron(d) was ’n kleremaker wat op die ouderdom van 20 saam met die Hugenote in die Kaap aangekom het.
Die Therons was vermoënde mense, en Thomas Arnoldus het soos sy pa as Heemraad gedien, en ook as ’n burger-luitenant. In 1764 - toe hy 48 jaar oud was - erf hy die familieplase Minie en Lanquedoc.
Sy plase in Klein Drakenstein was nie die enigste plase wat aanspraak kon maak op die water van die Palmietrivier nie, en dit is net daar waar Theron probleme begin optel het met sy bure.
Kla sy bure dat hy water steel en die loop van die rivier verander, meen Theron hy beskerm net sy eiendom teen erosie.
Die gort was behoorlik gaar toe Theron se naam in 1771 voorgelê is as ’n kandidaat-ouderling. Die gebruik destyds was dat die gemeente elke jaar ’n lys name aan die Politieke Raad gee waaruit die poste van diaken en ouderling gevul kon word.
Vier boere - Tieleman Roos, Pieter Silje, Jan Nieuwoudt en Pieter le Riche - het heftig beswaar gemaak toe Theron gekies is. Hulle het gevoel dat hy nie die amp waardig was nie, en omdat hulle die aanstelling nie wou aanvaar nie, is hulle onder meer deur die kerkraad onder sensuur geplaas.
Volgens hulle was Theron ten spyte van beloftes om nie water te steel nie, “onrehabiliteerbaar” en het elke keer weer in sy “kwaad leven” verval.
Theron moes inderdaad voor die kerkraad verskyn en homself verdedig teen die beskuldigings ten opsigte van “waterleidingen” en volgens sy aanklaers moes hy sy “gemaakte dammen wegruimen”.
Die twis was so erg dat dit amper ’n skeuring in die kerk veroorsaak het. Die dorp het behoorlik gegons.
Mense het beweer dat hy nie net sy bure hul water ontneem het nie, maar dat hy ook sy skoonma en vrou sleg behandel het.
Die beswaardes en hulle aanhangers het selfs geweier om aan die kerk se sakramente deel te neem. Van die 300 lidmate van kerk, het 130 hulle geskaar by Tielman Roos-hulle in 1772.
In 1773 is Pieter Marais en Jan Roos Holland toe, om daar ’n klag in te dien by die Classis van Amsterdam, wat as sinode kerksake beheer het. Marais is tydens hierdie besoek in Holland oorlede.
Ten spyte van Theron se dreigemente om ’n siviele saak te maak teen sy aanklaers, het hulle in 1775 weer ’n petisie by die Politieke Raad ingedien. Hierdie keer is dit deur 188 kerklidmate onderteken.
Dieselfde jaar is nog ’n afvaardiging Holland toe, en hierdie keer word die gemeente se dominee ook aangeval omdat hy volgens hulle kant kies. Hulle skryf van die “slingse weegen van den predikant” wat hulle selfs agtervolg.
Teen 1778 weier die ontevredenes om kerkdienste by te woon, en laat ook nie hulle kinders doop nie (waaronder Pieter Retief wat later Voortrekkerleier sou word).
Die Politieke Raad het tydens ’n spesiale sitting hulle kommer begin uitspreek oor die situasie in Drakenstein, en gevrees dat godsdiens daar “geheel tot verval raken”. Kort na hierdie vergadering het ds Petrus van der Spuy – ’n Theron-ondersteuner - sy ontslag gevra om op Stellenbosch te gaan aftree. Die stryd het later momentum begin verloor.
Ironies, toe Theron sy plaas in 1787 laat opmeet het, het die landmeter gevind dat sy plaas inderdaad kleiner was as die oorspronklike uitgif, en dat hy dus nie soos beweer is, grond gesteel het nie. Hy is in 1790 oorlede op die ouderdom van 74.
Wie die skuld moet dra vir hierdie langdurige twis is moeilik om te bepaal. Interessant genoeg is Roos tussen 1752 en 1770 tien keer as diaken genomineer en nooit deur die Politieke Raad aangestel nie. Miskien was dit ’n kwessie van suur druiwe tussen Klein Drakenstein se wynboere.