Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Hoe vuil of skoon is 'n ouditverslag?

Hoe vuil of skoon is 'n ouditverslag?
 
2010-07-15


EK verwys na die skrywe “Hou tog net op kerm!” in die Paarl Post van 1 Julie deur die onderburgemeester, mnr Wilhelm Nothnagel.

Ek verstaan dat die onderburgemeester graag wil hê die belastingbetaler en Deetlefs Du Toit moet ophou kerm, want as ’n mens so lekker op die soustrein ry, dan is jou gevoel maar min vir die belastingbetaler wie se geld jy so gevoelloos mors!

Ek vertrou dus die onderburgemeester het nie werkstyd gebruik om sy brief te tik aan die Paarl Post nie en sodoende nog verder tyd gesteel van die belastingbetaler nie, in plaas daarvan om na die mense se belange om te sien!

Wat my grensloos irriteer, is die onkunde van die raadslede om altyd na ’n ouditverslag te wil verwys wat “skoon” is en dan daaragter wil skuil asof hul ’n goeie job doen.

’n Ouditverslag verwys allermins na skoon of vuil, maar na gekwalifiseerd, ongekwalifiseerd of verwysing na ’n item van belang.

Dit bewys nie dat jy goeie werk gedoen het nie, maar verwys bloot daarna dat die finansiële resultate nie materieel verkeerd is nie!

Dit het baie min te make met swak diens, swak kontroles buite die finansiële omgewing of die vermorsing van belastingbetalers se geld!

Indien jy werklik na so ’n verslag wil verwys, versoek die Ouditeur-Generaal of ’n uitgekontrakteerde ouditeur om ’n stelsel van finansiële kontrole-nasiening (system of financial controls review) uit te voer en dan ’n verslag daaroor aan die publiek uit te reik.

So ’n verslag sal immers ’n aanduiding gee of jy jou werk naastenby reg uitvoer.

Om eerlik te wees, ek dink dan sal jy jou werk kwyt wees, want dan sal die belastingbetalers mos kan sien wat werklik daar aangaan!

Hou asseblief op om na ’n “skoon” ouditeursverslag te verwys uit onkunde, want dit irriteer my so dat ek sommer begin kerm!

Ouditeur




More News
  • Name change comes with new commitment
  • Maar moeilik met diens in middedorp
  • Rooi linte nie vir vandalisme
  • Moenie die naam verander nie
  • We can make a difference
  • Doen julle werk!
  • SMS
  • Peace under the (Linden) trees
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za