JOU testament is een van die belangrikste dokumente waarop jy ooit jou handtekening moet plaas. Dit is immers jou laaste wens op aarde en die dokument wat bepaal hoe met jou geld en goed te werk gegaan moet word as jy die dag dit nie meer self kan doen nie.
Maar nou vergeet baie mense om dié belangrike dokument te onderteken.
Dit kan wees dat jy nie eens weet jou testament is nie onderteken nie – of jou ou testament word deur ’n nuwe vervang, maar die nuwe het nog nie jou handtekening nie. Dit kan ook gebeur dat iemand sterf terwyl die finansiële raadgewer of prokureur se sekretaresse nog die testament tik vir finale ondertekening.
Volgens Berrie Botha by Sanlam Trust, het ’n waterskeidende uitspraak in die Appèlhof in Maart 2003 beslis dat ’n ongetekende dokument (testament) wat die oorledene deur ’n prokureur, bank, trustmaatskappy of ander derde persoon soos ’n finansiële adviseur laat opstel het, nie voortaan deur die hof vir bekragtiging as testament aanvaar sal word nie.
Dit beteken dat uitvoering nie gegee sal kan word aan ’n testament wat nie onderteken is nie – al weet almal dat dit ’n werklike weerspieëling is van die oorledene se laaste wens en begeertes.
In só ’n geval sal die boedel beredder en verdeel word volgens sy laaste behoorlik ondertekende testament of intestaat, om bedrog te verhoed.
Die vereiste dat die dokument deur die testateur self opgestel moet word, waarborg ’n mate van betroubaarheid.
Dit bewys ’n persoonlike handeling deur die testateur, waaruit sy bedoeling duidelik afgelei kan word. As die vereiste egter slegs sou bepaal het dat iemand die testament moet opstel, is die kanse veel groter vir bedrog en valse bewerings.