Gouws loop jakkalsdraaie
2010-07-15
Liezl Dyson
’n PAARLIET wat aangekla word van bedrog, het verlede week “jakkalsdraaie” om die staat se vrae gehardloop toe hy self in die getuiebank in die Paarlse Streekhof gestaan het. Marthinus Gouws, ’n Paarlse “konsultant”, word daarvan beskuldig dat hy van die moeder van ’n beskuldigde in ’n Vredendalse moordsaak (Sarah van Wyk) altesame R11 050 aanvaar het op die voorwendsel dat hy regsverteenwoordiging vir haar seun sou reël. Hy het nie opgedaag by die hofsaak die Maandag nie, maar het wel die volgende dag laat daar opgedaag. Gouws, wat skuld ontken, het getuig dat Van Wyk hom genader het om ’n bruin prokureur te soek omdat “die mense na bewering nog onderdruk word deur wit mense in Lutzville.” Staatsaanklaer Enslin Orange het hom gevra wat die regter vir hom in die hof gesê het en of die regter gesê het hy moet die geld teruggee. “Hy was kwaad vir my, maar ek kan nie onthou of hy gesê het ek moet die geld teruggee nie. Ek kan nie spesifiek al die woorde onthou nie. Dit was drie jaar gelede.” Orange het aan hom voorgehou dat hy ’n selektiewe geheue het omdat die hof hom op ’n stadium tydens sy getuienis moes stil maak omdat hy in fyn besonderhede kon onthou. “En nou vra ek vir u vrae wat net die dag daarna gebeur het en ek vra spesifiek wat die regter gesê het en u kan dit nie in detail onthou nie,” het Orange gesê. Gouws het later gesê dat dit moontlik waar kan wees dat die regter gesê het hy moet die geld teruggee. Orange het aan hom voorgehou dat die rede hoekom hy die Dinsdag Vredendal toe gegaan het, was omdat die regter hom beveel het om daar te wees. “Geen regter het vir Marthinus Gouws ontbied Vredendal toe nie. Ek het ’n verpligting teenoor mev Van Wyk gehad,” het Gouws geantwoord. Orange het hom gevra hoekom hy gedink het hy moet al die pad Vredendal toe ry, dit terwyl hy nie ’n advokaat vir die Van Wyks gehad het nie. Gouw het gesê hy help altyd as hy sien “bruin mense word deur wit mense onderdruk”. Orange het hom gevra hoekom hy nie die geld aan Van Wyk terugbetaal het nie: “Hier is ’n onderdrukte bruinvrou wat geld geleen het. Hoekom het u nie die geld teruggegee nie? Orange wou toe weet of Gouws dalk die guns van die hof wil wen omdat hy weet die hofpersoneel is bruin en die landdros is swart? Hierop het Gouws geantwoord dat hy ongemaklik voel dat die aanklaer praat van “bruin” en “swart”. “Netnou was u dan opgewerk oor die witmense wat die bruinmense onderdruk - dit is vir my vreemd,” was Orange se reaksie. Gouws het getuig dat Van Wyk ’n volmag geteken het wat sê dat die geld nie terugbetaalbaar is nie. Die oorspronklike van hierdie dokument is egter nog nie gevind nie. Orange het aan hom gevra hoekom hy, indien hy nie ’n diens gelewer het nie, nie die geld teruggee nie. Gouws kon nie ’n reguit antwoord gee nie en hierop het die aanklaer vir hom gesê dat hy jakkalsdraaie om die vrae loop. Die aanklagte teen Van Wyk se seun is op die derde dag met die hulp van ’n regsverteenwoordiger teruggetrek. Die verhoor duur voort op 13 September.
More
News
|