Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Wakker toeriste kry geld terug uit Maputo

Wakker toeriste kry geld terug uit Maputo
 
2010-07-15


PAARLSE toeriste wat onlangs in Mosambiek gekuier het, het so ’n bohaai gemaak toe ’n groep polisiemanne hulle voorgekeer en betaling van ’n kontantboete geëis het, dat dié polisiemanne uiteindelik vervolg is en ’n Mosambiekse amptenaar hul boetegeld persoonlik in die Paarl kom terugbetaal het.

Nico en Alida Pople en Etienne en Ida de Villiers van die Paarl het saam met Rupert en Liz de Vries van Robertson, hul kinders en nog vriende in Mosambiek getoer tydens die skoolvakansie. Ná twee onvergeetlike weke in Xai-Xai en Paindane moes hulle huis toe en besluit om Maputo vinnig te besoek vroegmiddag op 1 Julie.

Hul drie voertuie sleep elk ’n sleepwa of boot wat parkering bemoeilik. Toe hulle verdwaal op pad na die waterfront, sien hulle ’n amptelike polisievoertuig met ses amptenare en hou agter hulle stil om die pad te vra.

Nico Pople maak sy sitplekgordel los, maar voordat hy nog kon uitklim, is een van die geregsdienaars reeds by sy voertuig en vra hom of hy bier gedrink het.

Hy antwoord “nee” en word daarna beskuldig omdat hy sonder ’n veiligheidsgordel bestuur het. Voordat hy nog aanwysings kan vra, word sy bestuurslisensie versoek.

Die polisieman hou toe sy lisensie en beveel hom om hom te volg, aangesien hy “aanspreeklik is vir ’n boete”. Oorbluf volg Nico, met al die ander voertuie agterna, tot op ’n punt waar hul stilhou, uitklim en twee gewapendes aan weerskante van die voertuig hom opdrag gee om R1 000 te betaal as hy sy bestuurslisensie terug wil hê.

Hy wou nie sy dogtertjies aan meer trauma blootstel nie en bied toe R500 aan in ’n poging om van hulle ontslae te raak en Maputo so gou moontlik te verlaat.

Toe hy verduidelik dat dit al geld is wat hy het, was hul reaksie “go ask your brothers for the rest”. Hy samel toe nog R500 in, kry sy bestuurslisensie terug en die polisiemanne keer terug na hul voertuig.

Liz vertel: “Ek gryp na ’n pen en papier om hul registrasienommer neer te skryf, maar dié gewoonte-korruptes is te uitgeslape en plaas hulself dadelik in strategiese posisies om identifikasie onmoontlik te maak.

“Twee staan voor die agterste nommerplaat, een teen die voordeur en die ander haas hul na die voorkant, maak hul enjinkap oop en staan voor die voorste nommerplaat en kyk na die enjin. Ons ry weg, maak ’n u-draai om die eerste hoek en ry terug om hul onverhoeds te betrap. Gelukkig werk dit en ons kry hul nommer: MLK 94-57!

“Binne vyf minute skakel ons die nommer van die Suid-Afrikaanse Hoë Kommissaris in Maputo wat ons toe na sekere staatsamptenare verwys, wat baie ontsteld was oor die insident.

“Groot was my verbasing toe ek deur die loop van die middag talle oproepe ontvang van persone wat ons verseker dat hulle dié amptenare sal vervolg en om ons opreg om verskoning vra vir hierdie aaklige ervaring.

“Later dieselfde dag volg nog twee oproepe van verskillende persone om ons in te lig dat hulle die amptenare dissiplinêr verhoor het en geld in hul besit gevind het.

“Hulle wou by my weet presies watter note ons oorhandig het. Toe ek sê vyf R100-note en tien R50-note, was dit genoeg bewys vir hulle om die amptenare agter tralies te hou tot hul hofdatum. Dit was toe 17:45 - slegs drie uur ná die voorval!

“Maandag, 5 Julie, ontvang ek ’n oproep van die hoof van die speurtak van die polisie in Maputo, mnr Diaz Balate, om my mee te deel dat hy op pad is Kaap toe om ons geld persoonlik terug te besorg en ’n verklaring by my af te neem! Dinsdag 6 Julie het ons mekaar in die Paarl ontmoet waar ons ’n verklaring aflê en ons geld ontvang. Hy het ons ingelig dat die oortreders waarskynlik sestien jaar gevangenisstraf sal ontvang.”

Nico en Liz het gesê dat hulle toeriste aanmoedig om dadelik ongerymdhede aan te meld. Hulle meen die senior regeringsamptenare in Mosambiek verdien gelukwensing oor die manier waarop hulle hierdie voorval hanteer en so flink opgelos het.

“Ek wonder of ek dieselfde diens in Suid-Afrika sou kry? Ons Suid-Afrikaners aanvaar veels te gou sulke insidente gelate. Ons sal beslis weer Mosambiek besoek!”




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za