Hospitaal gaan nuwe baadjie kry in 2006
2005-09-22
PERSONEEL van Paarl Hospitaal kan hul opgewondenheid nouliks beheer en almal loop met ’n glinster in die oog nadat die Wes-Kaapse minister van gesondheid, Pierre Uys, Donderdag meer kom vertel het van die splinternuwe baadjie ter waarde van miljoene rande wat die gebou gaan kry.
Vroeër vanjaar is aangekondig dat grootskaalse ombouings en aanbouings by Paarl Hospitaal beoog word.
Uys het verlede week bevestig dat die Nasionale Departement van Gesondheid nou die groen lig hiervoor gegee het en ’n bedrag van R273 miljoen is vir die projek bewillig.
“Werk aan die hospitaal in samewerking met die Departement van Openbare werke wat oor ’n tydperk van 38 maande sal strek, is nou ’n werklikheid!”
Die minister het ook ’n pluimpie vir Paarl Hospitaal gegee vir die lae aantal verwysings van pasiënte na Tygerberg Hospitaal.
Die voorsiening van toerusting, rekenaarstelsels en befondsing van personeel is van die aspekte wat ook met die projek aangespreek word. Vir laasgenoemde sal die begroting van R97 miljoen hopelik later verhoog word.
Met ’n vroeëre besoek aan die hospitaal, is van die tekortkominge wat ervaar word, aan die minister uitgewys. Opslaangeboue, verouderde toerusting, gebrek aan ’n doeltreffende rekenaarstelsel en die behoefte aan die restourasie van die historiese eerste hospitaal is beklemtoon.
Sê Esther Smit, projekkoördineerder, “Hierdie aankondiging span die kroon op etlike jare se harde werk en beplanning, en nou kan met bouwerk begin word”.
Tenders vir die projek sluit in November en bouwerk begin vroeg in 2006.
Die planne maak voorsiening daarvoor dat die bestaande hoofgebou aan die noordekant uitgebrei word met ’n toringblok van ses verdiepings vir sale, terwyl ’n nuwe tweeverdieping-administrasieblok voor by die hoofingang aangebou word.
Dit sal die aantal beddens tot bykans 350 verhoog van die huidige 220. Tydelike geboue sal gesloop word en die ombouings sal plaasvind met so min ontwrigting as moontlik, volgens inrigtingshoof dr Breslau Kruger.
Kruger het gesê dat traumapasiënte toegeneem het sowel as toelatings en dat die hospitaal as streekshospitaal ’n onontbeerlike diens aan pasiënte lewer.
Volgens die voorsitter van die hospitaalraad, Susann Marais, het almal na hierdie goeie nuus uitgesien.
Die verbeterde Paarl Streekshospitaal sal nou omliggende dorpe in die streek tot sover as Vredenburg aan die Weskus bedien met hierdie verbeterde fasiliteit.
* Construction work to enlarge and upgrade the Paarl Hospital will start early next year.
More
News
|