Matthysen help om rekord te verpletter
2010-07-15
’n TOP Elite Baanfietsryer van die Paarl, Réniell Matthysen (21), het onlangs kragte saamgesnoer met die belowende Evan Carts- tans (19) van Monte Vista tydens die Wes-Kaap Baanfietsry Kampioenskappe, om in die 20km Madison-wedren die Nasionale baanrekord te verpletter. Die vorige rekord (25:35,20), wat in 1999 opgestel is deur die legendariese JP van Zyl en Norman Lester, was ook in die Bellville Velodrome opgestel. Matthysen en Cartstans het dié rekord na 24:37,20 verbeter. In die proses het Cars-tens en Matthysen 5 rondtes voor die res van die bondel in die betrokke wedren geëindig, wat derhalwe ’n bewys is van die determinasie waarmee hulle dié wedren benader het. Matthysen en Cartstens het tydens die 2009 WP kampioenskappe ’n goue medalje verwerf en tydens die 2009 SA Kampioenskappe ’n brons medalje in die 50 km Madison-wedren verower. Toe reeds was daar gepraat van die “nuwe sensasie” in dié betrokke wedren. Beide jaers het reeds die oog gevang toe hulle hul merk op plaaslike fietsry begin maak het in onderskeidelik die o.16 en junior-wedrenne. Beide was SA-kampioene in hul onderskeie o.16 en junior-afdeling. Réniell het tydens die 2004 Junior Wêreldkampioenskappe in Oostenryk ’n 5de plek behaal in die 15km wedren en gedurende Januarie 2010 in Beijing, tydens die Wêreldbeker-kampioenskappe, die beste resultaat nóg vir ’n Suid-Afrikaanse ryer in die Puntewedren behaal. Carstens is tydens die 2010 SA Omnium Kampioenskappe as die SA kampioen gekroon. Hul prestasies het duidelik ook indruk gemaak op nasionale fietsrykeurders, aangesien daar tans sprake is dat dié duo volgende jaar in Januarie aan ’n Sesdaagse Baanfietsrybeenkoms in Denemarke gaan deelneem. Beide ryers is tans aan die oefen vir die SA kampioenskappe wat vanaf 2 tot 4 Oktober in die Bellville Velodrome plaasvind.
More
News
|