NOUDAT ons meer gaan betaal op ons munisipale rekenings, wil ek graag ’n versoek rig dat Berg-en-Dal in Wellington se strate geteer word, want dit is vol gate, lap- en plakwerk.
Waterlesings moet uitgevoer word elke maand sonder om geskat te word, al reën dit.
Maak soos Witzenberg Munisipaliteit en gee elke drie maande ’n groot rol swart sakke aan dié wat hul rekening betaal.
Hoekom is krag en water goedkoper in Ceres as in Wellington? Die mense raak nog armer en kos raak al duurder.
Waarom moet mense wat hul rekenings betaal verantwoordelik gehou word vir diegene wat krag steel? Ons het mos wetstoepassing om dit te verhoed, of hoe?
Ek sien ons voorland is lampolie-lampies en kerse, want wie het dan krag nodig. Al wat kort is dat ons moet gaan plak op ’n oop stuk grond.
As ons aan al die onwettige smouse permitte uitreik sodat hulle kan betaal vir hul staanplekke, sal dit dalk help met die swak finansies van Drakenstein.
Dit is sommer twak dat een op die “gravy-trein” kan ry en die ander moet bars om sy rekening te betaal.
Ontevrede