Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


'n Springbok vir Milkytown

'n Springbok vir Milkytown
 
2005-09-22

Leon Steenkamp

KAN ’n klubrugbyspeler wat so te sê uit die niet sy verskyning gemaak het, binnekort vir die Springbokke uitdraf?

Alvin Hugo, talentvolle vleuel van Albions Rugbyklub in die Paarl, hoop dit is wat in sy toekoms opgesluit lê.

Hugo was verlede week oorstelp toe hy in die Springbok Amateur-span ingesluit is.

Die feit dat dit dieselfde paadjie is wat die huidige Springbok-skrumskakel, Enrico January, geloop het, oortuig Hugo dat ook hy eendag die Groen en Goud oor sy kop kan trek.

Was dit egter nie vir ’n vriend nie, sal Alvin nooit sy talent vir rugby ontdek het nie.

“Ek het op skool sokker gespeel en eers as o.16 speler by Albions Rugbyklub begin rugby speel,” vertel die 22-jarige wat by Noorder-Paarl Sekondêr skoolgegaan het.

Sy skoolmaat, Espen Wambi, het dadelik die moontlikhede vir die blitsige Alvin op die rugbyveld gesien en hom aan die junior afrigter, Galloway Schroeder, voorgestel.

“Ek het op senter begin en toe ek o.19 begin speel het, na vleuel geskuif,” sê hy.

Hugo het in 2002 die eerste keer vir Albions se eerste span uitgedraf.

Vleuel is beslis waar Alvin op sy gemaklikste is - sy vermoë om ’n beweging op aanskoulike wyse met ’n drie af te rond getuig hiervan.

En drieë druk is sy kos.

Hy het vanjaar 14 keer agter die doellyn gaan kuier in die 15 wedstryde wat hy vir Albions se eerste rugbyspan gespeel het, insluitende ’n driekuns teen Paarl Rugbyklub.

Vra jy hom uit oor wat hom so goed maak in dié posisie, glimlag my maar net verleë. Die wedstrydsekretaris, Stevie Williams, is egter gou by met ’n antwoord.

“Hy is beide ’n goeie baldraer én verdediger. In alles wat hy doen, is hy besonders - dinge wat hy doen is werklikwaar verstommend. Sy balvaardigheid en die manier hoe hy vinnig die spel kan lees, maak hom so goed,” sê Williams.

Hy voeg ook by dat Hugo se vertoning op die veld dié seisoen die Albions-ondersteuners Saterdag na Saterdag na die klubwedstryde gelok het.

“Hy is ’n goeie voorbeeld vir jong seuns in Milkytown waar hy bly. Hy is ’n bewys dat daar wel ontwikkeling kan plaasvind deur middel van klubrugby,” sê Williams.

Net soos Alvin destyds na die rugbyveld gelok is, probeer hy ook deesdae die jongklomp in sy eie buurt na Albions Rugbyklub lok.

“Die kinders hou hul besig met gruwelike goed en hy praat gedurig met hulle,” spog Williams met sy jong ster.

Snaaks genoeg is Hugo se rolmodel op die rugbyveld ’n voorspeler, die All Blacks losvoorspeler Jerry Collins.

“Ek hou van die manier hoe hy speel, sy harde tackles en sy houding op die veld.”

Hy probeer ook om dié hardekwas-houding op die veld in te neem, sonder om die spelreëls te oortree natuurlik.

Alvin is verlede jaar in die WP Disa-span opgeneem terwyl hy vanjaar ook in die WP Akademie-span ingesluit is, voordat hy vir hoër diens opgeroep is na die WP Amateur-span.

Hy het reeds sy merk gemaak in beide die WP en Springbok se amateurspanne.

Vir die WP het hy reeds in drie van hul vier wedstryde gaan druk, en nogal twee keer teen die Grens en die Grens Platteland spanne.

Tydens die Bokke Amateurs se wedstryd teen Zimbabwe Saterdag in Harare het sy twee drieë ook tot die 47-23 sege bygedra.

Hy sal hoop om op dié prestasie te verbeter wanneer die Springbok Amateur-span volgende naweek op Ellispark teen Kenia te staan kom as deel van hul opmars na die Afrika Beker-titel.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za