Motorfietsryer sterf in pas
2010-07-22
Lise Beyers
’n MOTORFIETS-PRETRIT van twee broers en ’n vriend het Saterdag erg skeefgeloop, toe een van die motorfietsryers verongeluk het. William Engelbrecht (49), sy broer, Arthur, en ’n vriend, het die perfekte weersomstandighede Saterdag benut om hul gunsteling-stokperdjie te beoefen. William beoefen al meer as 20 jaar lank hierdie sport en het onlangs vir hom ’n splinternuwe motorfiets aangeskaf. Die groep vriende het Saterdagmiddag oor Dutoitskloof-pas gery na Worcester en terug. Maar dinge het lelik skeef geloop toe William op pad terug omstreeks 15:45 op die pas om ’n draai te naby aan ’n aankomende motor beland het. Die sy-spieël van sy motorfiets het die voertuig getref en hy het beheer oor sy motorfiets verloor. William is van sy motorfiets afgeslinger en, alhoewel die motorfiets op die pad gebly het, is hy teen die helling afgeslinger. Beide die brandweer en metro-nooddienste is vinnig na die toneel, waar paramedici hom probeer stabiliseer het. Hy is teen die helling opgedra na die pad waar noodhulp toegepas is, maar hy is kort hierna binne ’n ambulans dood verklaar. Hy het waarskynlik aan ’n nekbesering gesterf. William, wat by padkonstruksie betrokke was, word oorleef deur sy vrou Gerthrude, en drie dogters, Melissa (25), Deidré (23) en Nicole (19). Die begrafnis is Sondag om 11:00 uit die familiewoning te Abduraghmanlaan, Weltevrede, en daarna om 14:00 by die Ou Apostoliese Kerk in Valleistraat, Newton. * A local man was killed in a motor cycling accident on the Du Toit’s Kloof Pass.
More
News
|