Blues, Tiere hervat derby
2005-09-22
DIE rugbyklubs van Young Peoples en Laer Paarl, ook bekend as Blues, hervat Saterdag hul derbykragmetings ná ’n breek van vyf jaar.
Weens vol rugbyprogramme kon dié twee klubs die afgelope paar jaar nie teen mekaar speel nie, en die ondersteuners lek behoorlik hul lippe af vir die reusestryd wat Saterdag op Daljosafat Stadion gespeel sal word.
Die besture van albei klubs het hard agter die skerms gewerk om die wedstryd moontlik te maak en dit is beslis die hoogtepunt van Peoples se 110-jarige feesvieringe.
Peoples sukkel tans met beserings en sy voorste spelers het lelik vorm verloor.
Die Tiere sal gevolglik swaar op sy talentvolle agterlyn steun om die wa deur die drif te trek. Daar sal nietemin van sy voorspelers verwag word om kwaliteit-balbesit aan sy snellers te gee.
Die Tiere sal hul lynstaanwerk moet opknap, terwyl hul lostrio ook nie die afgelope tyd die wêreld aan die brand gespeel het nie.
Blues het aan die begin van die seisoen van sy beste spelers aan ander klubs afgestaan, en aanvanklik in die Vierde Liga gesukkel. Die Blou-truie het getrou aan hul tradisie egter opgestaan en soos die seisoen gevorder het, baie verbeter.
In derby-wedstryde is enigiets egter moontlik en albei spanne sal oorgehaal wees om as oorwinnaar van die veld te stap.
Laer Paarl het reeds telkemale bewys dat hy nie vir groot name skrik nie en sal die Tiere deeglik toets.
Peoples is met ’n kortkop die gunsteling, maar sal ’n groot fout maak as hulle vir Blues gaan onderskat.
Saterdag se program is (11:00) o.15, (12:00) o.19, (13:00) derde spanne, (14:30) tweede spanne, (15:30) vroue-sewes, (16:00) veterane, (16:30) eerste spanne.
Super 4 skop af
Die jaarlikse Super-4 kompetisie tussen Young Peoples, Albions, Paarl Rangers en Young Gardens word weer eersdaags op Daljosafat gespeel.
Die halfeindstryde sal op 30 September afgehandel word, terwyl die eindstryd ’n week later gespeel sal word.
Die program vir 30 September is (18:00) skolewedstryde, (19:00) Rangers t Peoples, (20:30) Albions t Young Gardens.
Hekke open om 17:00 en toegang is R5 vir volwassenes (R5 vir motors en R3 vir kinders).
More
News
|