Pniel behaal oorwinning oor Bellville
2010-07-22
IN ’n baie opwindende en spannende wedstryd het Pniel Villagers Saterdag ’n puik oorwinning van 40-34 oor ’n omgesukkelde Bellville-span behaal op laasgenoemde se tuisveld. Vanaf die afskop het die tuisspan met mening aangeval en die besoekers in hulle kwartgebied vasgepen. Sodoende het Bellville ook eerste die telbord aan die rol gesit met ’n sewepunter. Pniel het egter met goeie, konstruktiewe spel drie drieë aangeteken, wat hulle rustyd welverdiend met 19-14 laat voorloop het. Die vinnige tempo het in die tweede helfte voortgeduur, met die gevolg dat die toeskouers getrakteer is met elf sprankeldrieë in die wedstryd. Dit is moeilik om uitblinkers vir die wenspan uit te sonder, maar die name van die senterpaar, Elrico du Preez en Dimitri Noble, verdien om genoem te word vir hul besondere aanvallende spel en rotsvaste verdediging. Die grondslag vir dié oorwinning is egter voorlangs gelê. Puntemakers vir Pniel was Charleston Williams, Fernando Adams, Enrico du Preez, Gavin Petersen, Wade Stubbs en Graeme Sambo (1 drie elk). Stefanus Cedras met vyf doelskoppe geslaag. ) Pniel Villagers speel eerskomende Saterdag tuis in ’n derby-wedstryd teen Young Peoples.
More
News
|