April die skerpskutter
2010-07-22
Jaco van Wyk
SPELERS wat ’n rugbyspan verteenwoordig, kan in baie opsigte vergelyk word met die leër van ’n weermag. Eerstens is dit die kwessie van die harde manne - net soos ’n slagveld, is ’n rugbyveld nie ’n plek vir sissies nie. As jy te lig is in die broek, gaan jy klippe kou. Tweedens verg ’n rugbyspan, asook die troepe van ’n weermag, spesialiste in elke posisie om optimaal te funksioneer. Die voorry kan byvoorbeeld as grensvegters beskou word - die taaiste van die taai-manne op ’n slagveld. Hulle is die eerste linie van verdediging en die brawe siele wat altyd bereid is om die eerste hou op die ken te vat. Die tweede linie is die skoksoldate (in rugbyterme die flanke en senters). Dié manne se taak is eenvoudig om daardie ekstra skop te gee. Derdens kry mens daardie spesiale groep manne - die skerpskutters. ’n Man soos Brandon April val in dié kategorie. Die volmaakte skerpskutter, gewoonlik ’n losskakel of buite-agterspeler (’n man wat die telbord aan die rol kan sit), is ’n skaars spesie. Maar die Bolandse klubspan, Roses United, het in April ’n man met ’n dodelike, akkurate oog vir die doellyn. April is ’n man wat nie ’n tweede uitnodiging benodig om die doodskoot te plant nie. Met 18 drieë in twaalf wedstryde vir Roses, is dié 26-jarige Wellingtonner ’n lewendige definisie van die woord ‘skerpskutter’. Hoewel hy nie die punte opstapel deur aan te lê pale toe nie, ryg hy drieë by dosyne in. Die vegveld waarop April sy klub help om amper elke naweek glorie te proe, is ook nie ’n maklike terrein nie. Die Premierliga van Boland is bekend vir sy klipharde rugby. Roses United is egter die span wat tans die fakkel in dié liga dra en April is een van sy span se gevaarlikste aanvalswapens. Nie te lank ná sy skooljare by Bergrivier Hoërskool in Wellington nie, het spanne buite die Boland van April se talente kennis geneem. Sodoende was hy vir eers vir Boland verlore, toe hy by die Valke beland het. “Ek het lekker baie speelkans by die Valke gekry, dus het ek my tyd daar geniet. Daarna het ek ook die geleentheid gekry om Vodacombeker-rugby vir die Griffons te speel en Varsitybeker-rugby vir Maties,” sê April. April het onlangs by die polisie aangesluit, wat hom op die pad terug na sy tuisdorp geplaas het. Hy was egter nooit van plan om rugby op te gee nie en by Roses het hy so vinnig indruk gemaak, dat die Boland afrigter, Eugene Eloff, vir April na ’n oefenkamp genooi het, om sy talent eerstehands te beskou. “Verlede jaar was my spel nie waar ek dit wou hê nie. Maar sedert ek by die polisie aangesluit het, het my rugby aansienlik verbeter,” sê April. “Ek is nou sterker en fikser as ooit.” Twee naweke gelede het April ’n proesel Curriebeker-rugby gekry toe hy as ’n plaasvervanger vir Boland beïndruk het in ’n vriendskaplike wedstryd teen die Leeus. Hy was slegs ’n rukkie op die veld, toe hy ’n uitstekende drie gaan druk het. April weet egter dat hy sy huidige spelpeil sal moet volhou, indien hy ’n deurbraak tot Boland se beginspan wil maak. “Ek is op die oomblik net gelukkig om deel te wees van Boland se groep, want in ’n kort rukkie het ek reeds so baie onder coach Loffie (Eloff) geleer,” sê April oor die man wat hy as sy beste afrigter nóg beskou. “My doelwit is egter om myself in Boland se beginspan in te speel, so glo my, as ek die kans gaan kry om myself te bewys, gaan ek dit met albei hande aangryp,” sê April.
More
News
|